Tamboekiesbult (Lüneburg) plaasaanval

Roland Engelbrecht Farm Attack in Lüneburg

Omstreeks 04:00 op Woensdag, 27 Maart, is die 77-jarige mnr. Roland Engelbrecht, wreedaardig op sy plaas, Tamboekiesbult, in die Lüneburg omgewing aangeval.

Op Maandag, 1 April, het die Excelsior Nuus in verbinding getree met mnr. J. Filter, Hoof van Oorgrense Veiligheid, KwaZulu- Natal en hy het bevestig dat die aanval op mnr. Engelbrecht deur drie rowers uitgevoer is.

Volgens Oorgrense Veiligheid se persverklaring, het die aanvallers almal balaklawas gedra en kon hul in Engels kommunikeer. Hulle het die bejaarde slagoffer se woning ingegaan en hom oorrompel. Hy is herhaaldelik met ’n panga geslaan en hulle het aangedring op wapens en geld. Mnr. Engelbrecht het vir hulle al die kontant wat hy by hom gehad het gegee en gesê dat hy geen wapens het nie.

Daarna het die aanvallers mnr. Engelbrecht met die panga gesny en een van die aanvallers het sy vinger in die oom se linkeroog gedruk. Hy is ook gewurg en sy hande en voete is vasgebind. Sy mond is met kleefband toegeplak en hulle het ’n gemakstoel (Lazyboy) bo-oor hom gegooi, terwyl hy op die vloer gelê het.

Die rowers het met mnr. Engelbrecht se voertuig gevlug wat die volgende oggend langs die Lüneburg/Wakkerstroompad, uitgebrand gevind is. Daar word vermoed dat hulle per voet verder gevlug het. Mnr. Engelbrecht is bykans twee ure na die voorval deur ’n plaaswerker te hulp gesnel.

Die werker het ’n telefoonoproep vanaf ’n plaaslike taxibestuurder ontvang wat hom ingelig het dat hy mnr. Engelbrecht se uitgebrande voertuig langs die pad gesien het. Die SAPD se forensiese span het spoedig gereageer en die toneel is gefynkam vir enige bewysstukke en vingerafdrukke . Kriptografiese tekens (wat dikwels in die beplanning van plaasaanvalle gebruik word) is ook op die toneel gevind. Genadiglik leef mnr. Engelbrecht, maar hy het verskeie beserings opgedoen.

Met diep snywonde aan sy kop en tone en beserings aan sy keel het hulle hom agtergelaat. Hy sukkel ook om te sluk, en sy linkeroog het seergekry. Die ondersoek duur voort.