Jong boogskutters maak Piet Retief trots by SACSSA streekskompetisie

SACSSA streekskompetisie

Op Saterdag, 13 April 2019, het die Piet Retief Centershot Archery aan die SACSSA streekskompetisie in Ermelo deelgeneem. SACSSA is die South African Christian School Sports Association.

Hierdie kompetisie was die kwalifiserende ronde vir Mpumulanga kleure in boogskiet. Coenraad Terblance van Piet Retief, wat in die ope afdeling skiet, dit wil sê almal tussen die ouderdomme van 13 en 19, het goud in sy afdeling verwerf. Hierdie prestasie verseker dat Coenraad deurgaan na die SACSSA kampioenskappe wat in die begin van Augustus gehou sal word.

Coenraad het wel nie sy goue medalje huis toe gebring nie. Nadat Coenraad, Nico Slabber (2de plek) en Hansie Scheepers (3de plek) hulle medaljes ontvang het, het Coenraad na die vierde plek wenner, Alex Shaw, gestap en sy medalje om Alex se nek gehang. Nico en Hansie het sy voorbeeld gevolg en ook hulle medaljes opgegee. Alex Shaw is ’n seun wat ook in Coenraad se afdeling skiet.

Hy loop moeilik want hy gebruik ’n kruk, skiet met een hand en trek die snaar met sy mond. Steeds gebruik hy sy talent en die geleenthede wat aan hom gebied word om ’n inspirasie en ’n voorbeeld vir dié om hom te wees. Coenraad is, volgens sy ma, ‘n seun wat daarvan hou om ander gelukkig te maak, hy sal eerder gee as neem.

Hierdie keer het hy sy goue medalje prysgegee om Alex aan te moedig om nooit op te gee nie. Voorwaar ’n voorbeeld van goeie sportmanskap wat hierdie jongmans op ’n vroeë ouderdom toon.

Die klublede, wat by Maranatha Kerk skiet, het vyf nuwe instrukteurs bygekry om met die afrigting te help. Armandt Human van Piet Retief het ook die eerste plek in die O/11 afdeling by die kompetisie ingepalm.