Rare ontmoeting met ’n swart mamba

swart mamba

Hoe vreesaanjaend is dit nie om een van Suid-Afrika se gevaarlikste slange, die swart mamba, in jou eie agterplaas teë te kom nie.

’n Plaaslike boer, mnr. Hein Sunkel, het sy ervaring met die gevreesde swart mamba van 2,7 meter met ons gedeel. Op 10 April om en by tweeuur die middag het mnr. Sunkel sy honde hoor blaf, hy het verder ondersoek ingestel en op die swart mamba afgekom waar hy met sy kop omhoog, na die honde pik.

Mnr. Sunkel se boerboel is ongelukkig in die proses raakgepik en later van tyd dood. Die mamba het in ’n boom gaan skuiling soek waar mnr. Sunkel hom toe van kant gemaak het met ’n .22. Volgens mnr. Sunkel is dit die eerste swart mamba wat op sy erf doodgemaak is, daar was wel al mambas op ander dele van sy plaas gewaar in die verlede.

’n Swart mamba is swart/bruin van kleur met die welbekende swart kleur binne in sy bek, baie vinnig en vreeslik giftig. Sy gif is neurotoksies en simptome soos swaar asemhaling en vertraagde spraak kom voor.

Wanneer ’n swart mamba iemand pik, moet daar dadelik ‘n drukverband op die bytplek geplaas word, beweging moet minimaal wees en teengif moet ontvang word. Simptome wat nie behandel word nie kan lei tot respiratoriese versaking, kardiovaskulêre ineenstorting en die dood.

Daar is drie algemene soorte gif wat in meeste slange voorkom: Neurotoksies, wat die sentrale senuweestelsel aanval. (Mambas, Kobras, Rinkhalse) Sitotoksies, veroorsaak swelling en weefsel beskadiging.

(Adders en Spoegkobras) Hematoksies, verhinder bloedstolling. (Boomslange en Voëlslange) Pofadders is maar Piet Retief se bekendste giftige slang. Indien enige slang gewaar word moet daar onder geen omstandighede nader gegaan word om dit te probeer identifiseer nie. Kontak vir Schubert Smith 083 273 6427) om die slang te kom verwyder of laat hom in vrede.