Panbultboere loop deur onder misdaad

Panbultboere Cattle Theft

Drie Panbultboere is die afgelope week beroof en het as gevolg daarvan groot skade gely.

Volgens mnr. Ruan Paul, van die Panbult Boerevereniging, is die eerste boer, ’n weduwee, op Dinsdagaand, 26 Maart, geteiken. Die diewe het die eiendom se heining geknip en sodoende toegang tot die skuur verkry. Dit is eers die volgende oggend agtergekom en dit blyk of die boosdoeners net alles deurmekaar gekrap het.

Gedurende die oggendure van Woensdag, 27 Maart, het nóg ’n plaaseienaar, wie se plaas grens aan die van die weduwee wat op Dinsdag beroof is, ook deurgeloop. Die inbrekers het toegang tot sy skuur verkry en verskeie toerusting soos kettingsae is gesteel.

Panbult Crime Awareness Campaign

Hulle het in die boer se Mahindra bakkie gevlug. Die voertuig is vroeg Donderdagoggend, 28 Maart, deur lede van die Panbult Boerevereniging, 5 km van die Amersfoort/Panbult grondpad af, verlate gevind. Die derde inbraak het in die oggendure van Vrydag, 29 Maart plaasgevind.

Die boer het omstreeks 01:30 alarm gemaak en op die radio om hulp gevra toe hy agterkom dat daar by sy skuur ingebreek is. Met nadere ondersoek is daar bevind dat sy Toyota bakkie, verskeie toerusting (ook kettingsae) en ook twee geslagte skape uit die koelkamer, weg is.

Lede van die Panbult Boerevereniging, in samewerking met die polisielede van Sheepmoor, het dadelik gereageer en was warm op hul spoor. Die diewe het die bakkie agtergelaat en per voet verder gevlug.

Daar was ook nie tyd om die gesteelde goedere, insluitend die skaapkarkasse, saam met hulle te neem nie. Volgens mnr. Paul was daar ten tyde van publikasie nog geen arrestasies gemaak nie. Baie dankie aan elkeen wat blitsvinnig gereageer het en die Panbultboere gehelp het om hul voertuie en van die gesteelde goedere weer terug te vind.