Vanaf 21-24 Maart 2019, het Heyshopedam Bootklub se komiteelede, die jaarlikse 3-Spesie Hengelkompetisie aangebied by die Heyshopedam se klubgronde.

Alhoewel die weerstoestande op die eerste dag van die kompetisie (Donderdag, 21 Maart), nie belowend gelyk het nie, het die son vinnig sy kop uitgesteek en kon die gesoute hengelaars voortgaan om mee te ding vir die groot pryse wat op die spel was.

Met ’n totaal van 167 deelnemers, wat heelwat kinders ingesluit het, het die vissermanne, -vroue en kinders douvoordag al hul karavane en tente opgeslaan sodat hulle die visstokke in die water kon kry. Vanjaar se 3-Spesie Hengelkompetisie, wat Karp, Baber en Swartbaars (Bass) ingesluit het, het weereens ’n handjie vol knewels opgelewer.

Baie geluk aan die volgende wenners wat op Sondag, 24 Maart, aangekondig is: Algemene 3-Spesie wenners (Karp): 1st plek – Tiekie Böhmer (4,28 kg) 2de plek – Iman Rens (4,055 kg) 3de plek – Margie Smit (4, 005 kg) Swartbaarwenners: 1ste plek – Joshua Devenish (2,410 kg) 2de plek – Craig Day (1, 68 kg) 3de plek – Yaynard van der Hoven (0, 315 kg) Junior Seuns Karpwenners: 1ste plek – PG Smit (3, 205 kg) 2de plek – Taylim Mans (2, 955 kg) 3de plek – Schalk de Bruyn (1, 990 kg) Junior Dogters Karpwenners: 1ste plek – Sanet Smit (2, 840 kg) 2de plek – Abbigail Gunter (2, 835 kg) 3de plek – Lee- Anne Oelofse (1, 340 kg) Dames Karpwenners: 1ste plek – Margie Smit (4, 005 kg) 2de plek – Tracy Lombard (3, 810 kg) 3de plek – Teresa Kotze (3, 200 kg) Gedurende die prysuitdeling is daar ook ’n gelukkige trekking gehou waarin deelnemers pryse kon losslaan soos visgerei, braaitoerusting en selfs houtskool of ’n pragtige t-hemp.

Die komiteelede wil graag elkeen hartlik bedank wat die kompetisie ondersteun het. Dankie ook aan die borge wat se bydraes gebruik is om die dag ongetwyfeld suksesvol te maak. Die Polisie-watervleuel (Duikers) word ook bedank dat hulle toesig gehou en seker gemaak het dat daar onberispelike gedrag op en om die water geheers het.

’n Bietjie reën en sterk winde het nie die hengelaars afgeskrik nie en dit is voorwaar ’n riem onder die hart dat die gemeenskap van Piet Retief die Heyshopedam Bootklub gereeld ondersteun. Tot volgende jaar!