Dis my land én dis jou land!

Op Vrydag, 15 Maart, het Elfieland Kleuterskool die eerste kwartaal afgesluit met ’n interessante tema: “Ons Land”.

Die jongspan het die geleentheid gehad om enigiets eg-Suid-Afrikaans aan te trek en gedurende die oggend, is daar heerlik “Spur-Spur” gespeel waar die kleuters kelners of kelnerinne was.

Hulle het mekaar bedien met trots Suid-Afrikaanse disse soos melktert en soet en sappige koeksisters – mmm! Elkeen word ’n genotvolle vakansie toegewens en daar word reeds voorberei vir ’n stampvol tweede kwartaal.