VLU Piet Retief middagtak – 647ste vergadering

VLU Piet Retief middagtak

VLU Piet Retief middagtak het op Maandag, 18 Februarie 2019, ons 647ste vergadering gehou by Zesty.

Daar is net weereens bewys hoe ons almal met ons eie uniekheid en kennis mekaar kan aanvul. Sonja du Toit en Dalene was die gasvroue. VLU Piet Retief middagtak open met almal se insette rondom Petrus wat op die water geloop het. Ook net vir ‘n paar tree, toe hy begin twyfel het en Jesus hom gegryp het.

VLU Piet Retief middagtakHoe dikwels is ons ook kleingelowig en twyfel heeltemal onnodig, omdat ons perspektief verloor oor Wie ons nooi om op die water te loop. Iemand het bygevoeg, as jy op die water wil loop, klim net eers uit die boot uit, te midde van die storm. Beet is VLU Piet Retief middagtak se produk van die jaar.

Ons uitdaging is om ‘n naakte beetkoek te bak vir kompetisie-doeleindes. Karen Ficker het vir ons voorbeelde aangebied saam met haar ervaring en kennis oor bak en brou wat sy uit ondervinding geleer het. Kranige baksters en beginners kon vrae vra en kennis deel.

Van die invloed van watter tipe suiker en die effek daarvan op die gebak, hoe om die beet voor te berei, versierings en so meer, totdat ons monde behoorlik begin water het. Lief en leed, blomme-kennis, idees rondom die nuwe artikels en humor is uitgeruil. Daar is heerlik aan Karen se beetkoek voorbeelde geproe.

Dit was uitstaande. Op ons pad uit, het van ons met teelepeltjies gestaan en koffielikeur proe, om uit al die inskrywings die beste drie te bepaal vir Vrydag se Konferensie in Ermelo. Weens die hoë standaard, want elke likeur is ‘n wenner, moes ons Ria Pols en Jens Paul se hulp ook inroep.

Afsluitgedagte deur Karl Menninger (Amerikaanse psigiater): Liefde maak mense gesond. Sowel die wat dit gee as die wat dit ontvang. Die volgende vergadering is op 11 Maart. Daar gaan ‘n baie spesiale gas teenwoordig wees. Die tema: Orgaanskenking. Navrae van die publiek: Kontak gerus vir Mariet Galt by 082 495 6457.