Sien die reënboog in donker situasies

Sien die reënboog in donker situasies

Op hierdie stadium kan die weervoorspelling eintlik soos volg lui: “Reënbuie word definitief plek-plek verwag vandag met ’n kans van geen elektrisiteit.”

Met die hoeveelheid reën wat bykans daagliks ontvang word, is dit amper veilig om te sê dat ons deesdae meer verseker kan wees van reën as elektrisiteit in Piet Retief.

Gedurende die afloop van verlede week, het dele van Mkhondo bykans 60 mm reën ontvang. Daar was egter ook areas wat slegs ’n gemiddeld van 20 mm reën aangemeld het, maar oor die algeheel, is dit duidelik dat Mkhondo en omgewing baie goeie reën in die afgelope sewe dae ontvang het.

60 mm reën plek-plek

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, ek sal juig in God, my Redder.” – Habakuk 3:17-18

’n Uittreksel uit Liefde vir elke dag deur Helena Hugo is so gepas op ons almal se lewens deesdae. Die boer word vermoor terwyl hy gereedmaak om kerk toe te gaan. ’n Vrou se handsak word deur ’n bedelaar gegryp toe sy dit oopmaak om vir hom ’n geldstuk te soek.

Sien die reënboog in donker situasiesGetroue kerkmense se huis brand af met al hul besittings wat boeke, foto’s en erfstukke insluit. Hulle het niemand enige kwaad aangedoen nie, maar hulle word seergemaak. Nog ’n boer het op sy knieë gegaan en geld geleen om vanjaar se ploeg te saai. Toe mielies heuphoogte staan, bars daar ’n haelstorm los en hy is nie verseker nie.

Waarom kry goeie mense swaar – mense wat op God vertrou? By die skool of werk word jy uitgeskuif omdat jy jou Christen-beginsels uitleef. Daar word teen jou gediskrimineer omdat jy Jesus eerste plaas. Waarom word Jesus se volgelinge bespot en verneder? Gee God dan nie om nie?

Hoor Hy nie hul gebede nie? Habakuk het hierdie selfde vrae 600 jaar voor Jesus se geboorte al gevra. Eindelik besef hy dat hy juis onder sulke omstandighede sy oog op die Here moet hou en sing hy die treffende loflied wat ons almal so goed ken. Al gaan dit ook hoe sleg, weet hy dat die Here God in beheer is en eendag nog tot sy redding sal kom.

Gaan dit vandag sleg met jou rakende jou finansies, persoonlike lewe of selfs by die werk? Is jy ’n persoon wat sukkel om in vandag se moeilike tye die mas op te kom? Onthou asseblief dat daar ’n reënboog skyn in elke situasie – hou jou oë gerig op God, jou deurbraak sal kom!