PRKK se Premierspan behaal ’n groot prestasie

PRKK se Premierspan behaal ’n groot prestasie

Dit is ’n riem onder die hart om te kan aankondig dat Piet Retief Krieketklub se Premierspan gekies is vir die halfeindstryd van die Mpumalanga Premier Liga.

Volgens mnr. Eugene Nel, President van die PRKK, is die Premierspan gekies weens die hoeveelheid punte wat die span verwerf het en die halfeindstryd kragmeting sal op 10 Maart, in Nelspruit plaasvind, waar ons ervare span teen Nelspruit te staan sal kom.

Uit bykans 60 krieketklubs wat aan die Premier Liga deelgeneem het, is dit voorwaar ’n groot voorreg om as een van die top vier spanne in Mpumalanga uitgesonder te word. Piet Retief se Premierspan is boaan die lys saam met die ervare spanne van Nelspruit, Witbank en Sasol (Secunda).

Dit is ook verblydende nuus om te kan noem dat vier spelers van die PRKK aan die Suid-Afrikaanse Platteland Krieketweek gaan deelneem. Dit vind plaas in Grahamstad. Baie geluk aan Freedom Buthelezi, Thokozani Peter, Mongezi Makoena en Zac Elkin wat gekies is om die Mpumalanga Titans gedurende hierdie toernooi te gaan verteenwoordig.

Die dameskrieketspan gaan op Sondag, 3 Maart, teen Sasol in Secunda te staan kom, ondersteun gerus hierdie talentvolle damespan – hulle weet wat hulle doen as dit by krieket kom! Kom ons bevorder dameskrieket nog meer in Piet Retief. Indien jy sou belang stel om krieket te speel, kontak gerus vir mnr. Nel by 076 287 1964, vir meer inligting. Die PRKK wil graag ook elkeen bedank vir hul voortdurende ondersteuning gedurende wedstryde. Die spanlede waardeer elkeen se positiewe gesindheid ten opsigte van die bevordering van dié sport.

Dit is al op verskeie geleenthede bewys dat Piet Retief vele talentvolle sportmanne en –dames het en dit is beslis iets om op baie trots te wees! Sterkte aan al die PRKK-spelers met jul voorbereiding en toekomstige wedstryde – ons hoop dat die Premierspan die Mpumalanga Premier Liga-beker gaan huis toe bring!