Piet Retief Wheelers durf die pad Swaziland toe aan

Van douvoordag af, op Saterdag, 16 Februarie, het 19 lede van Piet Retief Wheelers ’n strawwe rit na Swaziland aangedurf!

Die Piet Retief Wheelers het omstreeks 06:00 by die Tuscarora Spur bymekaargekom vanwaar hul weggetrek het. Hulle het op die Emahlatinipad uitgery en deur die plantasies ’n roete gevolg wat hul na die De Kralenpad gelei het. By die 40 km merk, is daar ’n waterpunt opgerig waar die fietsryers ’n blaaskans kon neem.

Van daar het hul vir bykans 9 km op die N2 gery en oorgegaan na die grondpad wat Mahamba toe lei. Van daar is hul weer op ’n teerpad vir 7 km en het by die Mahamba Grenspos deurgegaan na Swaziland toe. Die fietsryers het nog ’n paar kilometer gery en geëindig by Phumula Gastehuis. Op Saterdag het hul reeds 80 km per fiets afgelê en almal was gedaan.

By die gastehuis het hulle ’n heerlike samesyn geniet, terwyl daar gekuier en gesmul is aan ’n smaaklike bord kos. Vroeg Sondagoggend, 17 Februarie, was dit tyd om die pad terug huis toe aan te pak en na ’n voortreflike ontbyt, het die fietsryers gereed gemaak vir die 75 km rit.

Hulle het deur die Emahlatini Grenspos teruggekeer na Suid-Afrika toe. Alhoewel dit Saterdagmiddag goed gereën het en die roete effens nat en vol modder was, kon die fietsryers darem op Sondag terugkeer huis toe sonder enige probleme. Daar is ook geen beserings tydens die fietstoer opgedoen nie.

In totaal, is 155 km afgelê – baie geluk aan die volgende deelnemers wat die geleentheid aangegryp het en sonder ophou, die roete heen en weer voltooi het: Milton en Jeanne Slabber, Abraham Louw, Johann Nel, Thobani Shabalala, Fred Springhorn, Andrew en Joni Mc- Donald, Janus Pretorius, Linda Grabe, Jill Shand, Reanette Niewenhuizen, Louisa de Swart, Yolanda Pienaar, Matthew Lambert, Vis en Laiken Pretorius, Alwin Bronkhorst jr. en Carmen Filter.

Polly en Butch Bronkhorst, saam met Jan Grabe, het voorsiening gemaak vir die verversings langs die pad en het ook met voertuie saamgery om hulp te verleen indien die fietsryers dit sou benodig.

Baie dankie aan elkeen wat die fietstoer na Swaziland moontlik gemaak het. Dankie, vir diegene wat voorsiening gemaak het vir die brandstof vir die voertuie asook die bydraes ten bate van die verversings. Fietsry is soos boomklim.

As jy dit eers bemeester het, sal jy sekerlik nooit vergeet hoe om dit te doen nie, maar as jy vir die eerste keer na baie jare weer op ’n fiets klim, besef jy opnuut wat jy deurentyd gemis het!

Piet Retief Wheelies ry vir kanker

Op Saterdagoggend, 16 Februarie, het ’n groot groep kranige fietsryertjies van Piet Retief Wheelies gereedgemaak vir ’n eerste van sy soort Bike Park Junior Challenge ten bate van Melanoom Kanker.

Die byeenkoms is op Jan en Linda Grabe se perseel, net buitekant Piet Retief gehou en van vroeg môre af, was die entoesiastiese ryers, hul ouers en opgewonde toeskouers reg vir die baan. Maretha Potgieter het vorendag gekom met ’n fondsinsameling vir ’n vriendin wat in ’n stryd teen Melanoom Kanker gewikkel is en met die hulp van Darlinke Putter, het die verrigtinge seepglad verloop en was die uitkoms van die dag ’n groot sukses.

Daar is verskeie stalletjies opgerig wat allerlei verversings voorsien het. Siebert en Coreen Smith het voorsiening gemaak vir musiek om die besoekers te vermaak. Meer as 60 inskrywings is ontvang en elke deelnemer het weggestap met ’n pragtige medalje. Daar is ook pryse aan die wenners van die uitdaging oorhandig.

Die byeenkoms het ook gelukkige trekkings aan die einde van die dag belowe. Baie geluk aan Iris Roberts en Tarien van Zyl wat beide weggestap het met ’n splinternuwe fiets! Die Piet Retief Wheelies wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elke borg hartlik te bedank.