Oudbankbestuurder Mnr. Fanie (Stephanus Phillipus) Malan het geen bekendstelling in Piet Retief nodig nie en dit is met groot hartseer dat sy familie, vriende en die gemeenskap van Piet Retief op Saterdag, 16 Februarie, van hom moes afskeid neem.

Oudbankbestuurder oom Fanie is in 1935 in Lydenburg gebore en het in 1955 as ’n bankklerk in Groblersdal begin werk, by die destydse Barclays Bank. Hy het ook daar sy geliefde eggenote, Annatjie, ontmoet en hul is in 1960 getroud. Mnr. Malan word baie goed onthou vir sy bereidwilligheid om mense uit diep slote te probeer help en hy kon nie maklik “nee” sê nie.

Hy was die bankbestuurder van Eerste Nasionale Bank in Piet Retief sedert 1986 tot en met sy aftrede in 1995 en hy het beslis die lewens van almal saam met wie hy gewerk het aangeraak en ten goede verander. Behoede jou net as jy met hom ’n kans probeer vat het!

Hierdie merkwaardige man was baie lief vir sy gemeenskap en was “sy mense” en hul gesinne vir hom net so belangrik as die bank en besigheidsbedryf. Hy het ’n onwankelbare ge- Oudbankbestuurder en ’n formidable man, Fanie Malan loof gehad en was gek oor sy vrou en sy familie.

Oom Fanie was ook ’n kranige Blou Bul rugbyondersteuner en ’n mens moes maar lig loop as jy verby sy woning stap en jy verniel sy immergroen grasperk of sy groentetuin. Hy het ’n groot liefde vir sy honde gehad en was mal oor misdaadboeke. Weelde en aansien het vir hom geen waarde gehad nie.

Hy was ’n opregte, nederige dog gelukkige mens wat tevrede was met die minste. Hy het ook ’n baie droë sin vir humor gehad en kon ’n paar mense se siele behoorlik uittrek. Vir die afgelope twee jaar, was hy woonagtig by Huis Immergroen, waar hy ook oorlede is.

Op Vrydag, 22 Februarie, het sy familie en ander naasbestaandes hul laaste eer aan hom betoon tydens ’n Roudiens vanuit die NG Kerk in Piet Retief. Oom Fanie laat sy eggenote, drie seuns, hul gades, vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.

Die Excelsior Nuusspan betoon graag ons innige simpatie en medelye met die familie en vriende van oom Fanie. Rus in vrede, jou heengaan los beslis ’n groot leemte in die gemeenskap van Piet Retief.