Ongeluksverslag 12 – 17 Februarie 2019

Mnr. Anton Nortje, Hoof van die Mkhondo Nooddienste, wil graag ’n ernstige beroep op die gemeenskap doen om onder geen omstandighede beseerde persone van ’n ongelukstoneel af te vervoer nie.

In sommige gevalle, word pasiënte met privaat vervoer na nabygeleë klinieke of hospitale afgevoer voor paramedikusse op die ongelukstoneel aankom en hulle kan stabiliseer. Indien jy só ’n beseerde pasiënt vervoer, moet jy kennis neem daarvan dat indien iets met daardie persoon sou gebeur, jy verantwoording sal moet doen.

Mense wat beserings opdoen in ongelukke mag in sommige gevalle aanvanklik geen beserings toon nie en as jy nie opgelei is om te weet waarvoor om op te let nie, kan dit op so ’n wyse daardie persoon se lewe verder in gevaar stel.

Vanaf Dinsdag, 12 Februarie, tot Sondag, 17 Februarie, het plaaslike Noodpersoneel op bykans ses voorvalle gereageer. Dinsdag, 12 Februarie: Omstreeks 15:00, is Noodpersoneel ontbied na ’n ongelukstoneel op die Driefonteingrondpad.

Na bewering het die bestuurder van ’n wit Toyota Hilux bakkie beheer oor sy voertuig verloor en van die pad afgery vanwaar die voertuig in ’n sloot langs die pad opgeëindig het. Daar is bevind dat twee persone moontlik beserings gedurende die ongeluk opgedoen het, maar daar was niemand op die toneel nie.

Dit blyk of die beseerdes reeds met privaat vervoer verwyder is en Noodpersoneel het die plaaslike polisie oor die ongeluk verwittig. Donderdag, 14 Februarie: Weens die gure weerstoestande en paaie wat glad was na die baie reën, het ’n Scania vragmotor omstreeks 07:30, op die Pongolapad, beheer verloor.

Die ongeluk het egter plaasgevind waar talle buitelandse vragmotors in die verlede ook in ongelukke betrokke was. Hierdie betrokke vragmotor was afkomstig van Maputo en het LPGgas vervoer. Mnr. Nortje het aan die Excelsior Nuus genoem dat hul dankbaar is dat hierdie vragmotor nie omgeval het nie aangesien die gevaarlike gas ’n groot ontploffing kon veroorsaak het.

Vrydag, 15 Februarie: Omstreeks 17:30 is ’n ongeluk op die Paulpietersburgpad gerapporteer waarin een persoon ligte beserings opgedoen het. Volgens die ongeluksverslag, het die bestuurder van ’n wit Ford Bantam bakkie na Piet Retief gereis toe die voertuig se regter agterband bars.

Die bestuurder het beheer oor sy voertuig verloor en teen ’n aankomende silwer Nissan X-trail, wat onderweg was na Paulpietersburg, gebots. Saterdag, 16 Februarie: Die bestuurder van ’n wit Nissan NP200 bakkie het omstreeks 18:50 teen ’n boom in Krugerstraat (naby die TPA-kantoor) gebots nadat hy beheer verloor het.

Die insittende het slegs geringe beserings opgedoen, maar die voertuig is afgeskryf. Op dieselfde aand, omstreeks 20:00, is ’n ongeluk op die Pongolapad gerapporteer. Beide die bestuurders van ’n rooi VW Golf en ’n silwer VW Golf was onderweg na Piet Retief toe ’n voetganger die pad oorgesteek het.

Na bewering het die voetganger gewag vir ’n vragmotor om verby te gaan, maar nie die voertuie agter die vragmotor gesien nie. Die pendelaar het voor die rooi VW Golf ingehardloop, wat hom toe raakgery het. Die beseerde man het in die pad gelê weens die impak en die silwer VW Golf het toe bo-oor hom gery.

Die voetganger is op die toneel dood verklaar. Sondag, 17 Februarie: Die bestuurder van ’n wit Ford Bantam bakkie het omstreeks 16:30 beheer oor sy voertuig verloor in Dlamini Straat, eThandukukhanya en teen ’n inwoner se heining tot stilstand gekom. Twee persone is op die toneel behandel vir geringe beserings.

Wanneer dit kom by bestuursvernuf is dit van kardinale belang om altyd oplettend te wees. Hou ook ’n goeie volgafstand. Moenie die spoedgrens oorskry nie en wees bedagsaam teenoor jou medepadgebruikers. In baie gevalle gebeur ongelukke weens die feit dat bestuurders te vinnig ry en nie gou genoeg weer volle beheer oor hul voertuie kry wanneer ’n insident voor hul in die pad plaasvind nie.

Wees ook op die uitkyk vir voetgangers langs die paaie. Die inligting is ontvang vanaf mnr. Nortje en neem asseblief kennis dat die ongeluksverslag net ’n aanduiding is van wat moontlik op die toneel plaasgevind het aangesien dit nie altyd moontlik is om met die beseerde persone self te kommunikeer nie.

Die Excelsior Nuus lewer slegs berig volgens die inligting wat ontvang word vanaf die Mkhondo Nooddienste. Indien enigiemand navrae het aangaande ’n ongeluk, kontak gerus vir mnr. Anton Nortje op 079 872 8989.