Dominee Roelf van Niekerk tree af

Dominee Roelf van Niekerk

As ’n mens oor Dominee Roelf van Niekerk moet skryf, waar sou ’n mens begin?

Op 6 Februarie 1954 is Dominee Roelof van Niekerk op ’n plaas in die Warden omgewing gebore en die grootste deel van sy laerskoolloopbaan is by ’n klein Vrystaatse dorpie, Cornelia, voltooi.

Vanaf standerd 4 (graad 6) tot en met matriek het hy skoolopleiding in Vrede ontvang en hy het in 1971 daar gematrikuleer. In 1972 doen hy sy Nasionale diensplig in die Taktiese Peloton van die weermag en daarna het sy universiteitsloopbaan in Teologie by Tukkies begin en het hy dit daar voltooi. Roelf trou met Henna in 1978 en hulle word geseën met twee dogters, Nelmarie en Marli-Adel en ’n seun, Gideon.

Dominee Roelf van NiekerkIn 1980 aanvaar hy ’n beroep in Lusaka, Zambië, waar hy ’n klein gemeente bedien tot September 1983 en op 1 Oktober 1983, word hy deur die gemeenskap van Piet Retief verwelkom en Ds. Van Niekerk lewer sy intreepreek, as derde leraar van die gemeente, in die plek van Ds. Semmelink, wat bedank het.

Dit was gou duidelik dat Ds. Van Niekerk sy plek in die NG Gemeente van Piet Retief volgestaan het en hy het bewys dat hy ’n besonderse prediker is, wat deurentyd ’n pragtige boodskap aan sy toehoorder gebring het.

Op 17 Oktober 2009, moes Roelf afskeid neem van sy geliefde eggenote van 31 jaar toe Henna sterf aan kanker. Na haar afsterwe, het hul reeds vyf kleinkinders (twee seuns en drie dogters) gehad. Op 4 Desember 2010, tree Ds. Van Niekerk in die huwelik met Louise Hibbert. Om van al Ds. Van Niekerk se bedrywighede in die gemeente te praat, is nie moontlik in hierdie beperkte spasie nie.

Hy is beslis die spreekwoordelike man van God en dit is ’n eienskap wat hom so geliefd onder die NG Kerk se gemeentelede gemaak het. Ds. Roelf en Louise, die NG Gemeente van Piet Retief asook die hele gemeenskap groet julle met die volgende twee Bybelverse: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7

Mag julle ’n geseënde lewenspad vorentoe ervaar. Baie dankie vir die reuseverskil wat dominee in die gemeenskap van Piet Retief gemaak het. Dankie, vir 35-jaar se onbaatsugtige leiding en die puik voorbeeld wat jy vir baie mense gestel het.