Alhoewel prostitusie in Suid-Afrika onwettig is en sekswerkers aangekla kan word vir die oortreding van die Wet op Seksuele Misdrywe, met inbegrip van deelname aan volwasse prostitusie, sien ’n mens op ’n daaglikse basis dié “dames van die nag” in Piet Retief.

’n Lid van AfriForum Buurtwag, het die fotomateriaal aan die Excelsior Nuus verskaf nadat ’n plaaslike besigheidseienaar aan hom genoem het dat die dames wat in die nag op die hoek van Mark – en Du Toitstraat “vergader”, nou ook gebruik begin maak van sy sakeperseel se tuin om ander se drange te bevredig.

Blykbaar word sy tuinbeddings al vir ’n geruime tyd vir hierdie doeleindes gebruik en op die foto’s is dit duidelik dat daar gebruikte kondome en kartondose (waarop hulle lêplek maak) agtergelaat word. Ag nee sies man! Neem asseblief ook in ag dat dit nie slegs een gebruikte kondoom is wat daar gestrooi lê nie, maar báie!

Wie is veronderstel om hierdie onhigiëniese gemors op te tel? Die betrokke persoon beweer dat die tuin op ’n daaglikse basis skoongemaak moet word en dat hierdie probleem nou begin handuit ruk.

Wanneer gaan die owerhede dan ingryp? Prostitusie is teen die wet, maar sekswerkers loop daagliks op en af deur ons dorp se strate, sonder om te blik of te bloos oor hul misdrywe.

’n Mens mag beslis nie iemand oordeel vir wat hy/sy met hul lewens maak of hoe hulle hul daaglikse brood en botter verdien nie, maar om iemand anders se tuin te gebruik vir jou doen en late is ook verregaande! Hê asseblief respek vir jou medemens se eiendom.

Hierdie insidente geld dan ook vir soortgelyke “oomblikke van passie” in ons dorp se parke. Op verskeie geleent-hede word daar gebruikte kondome in die beddings binne die parke of onder die bome opgetel. Het jy dan geen skaamte nie?

Dit is egter nie so maklik om hierdie soort sake aan die owerhede te rapporteer nie, want ’n mens moet in ag neem dat enige persoon op ’n straathoek kan gaan staan en dalk geen misdrywe pleeg nie.

’n Mens moet in besit wees van tasbare bewyse waar die skuldige party op heterdaad betrap word. Daarna sal daar ook deur middel van beeldmateriaal of foto’s bewys gelewer moet word dat die persoon wel geld ontvang het vir dié soort diens gelewer.

Indien jy jouself dalk in ’n posisie bevind waar “dames van die nag” in jou buurt hul lêplek maak, word daar voorgestel om die polisie te kontak op 017 826 2601/02 en dit onder hulle aandag te bring dat jou residensiële area ’n gewilde plek is vir hierdie soort misdrywe en dat die SAPD die area moet patrolleer op ’n gereëlde basis. Vir die dames op die hoek van Marken Du Toitstraat – waar is julle selfrespek?