Amsterdam Boere Bosbou Rally

Boere Bosbou Rally

Op ’n sonnige Saterdagoggend, 2 Maart, het Amsterdam se Ondersteuningsklub ’n Boere Bosbou Rally gehou, ten bate van ’n fondsinsameling vir Laerskool Amsterdam.

Die verrigtinge het onderskeidelik op mnre. André Grobbelaar, Mig Wolfaardt en Jaap Naudé se plase plaasgevind en die begin- en eindpunt was langs die Westoedam.

Entoesiastiese bestuurders het reeds vroegoggend saam met hul spanmaats aangemeld. Hans-Jurie en Marlise Vosloo, van Kynoch, het almal gehelp met die nodige logistieke reëlings asook om belangrike dokumentasie te voltooi.

Elkeen is ’n fyn beplande roete-aanwysing gegee wat hulle noukeuring moes volg sodat hul by die verskillende aktiwiteite kon uitkom. Die spanne het ook elkeen ’n boekie ontvang waarin punte aangeteken moes word vir elk van die 11 aktiwiteite wat afgehandel moes word.

Voor die afskop, moes die spanne ’n kort hindernisbaan voltooi wat aktiwiteite ingesluit het soos om tennisballe op ’n paal te balanseer, deur geplante paaltjies te ry en ‘n waaierbelt (fan belt) oor ’n paaltjie te gooi, alles natuurlik teen tyd!

Die res van die aktiwiteite wat deur die loop van die roete voltooi moes word, het ingesluit: skyfskiet, putt-putt, kleiduif-skiet, rugbybal deur ’n band gooi, kettieskiet en hoefyster gooi, die lengte van ’n 1 kg wors raai en veerpyltjie gooi.

’n Paar deelnemers het per abuis die verkeerde paaie geneem en effens verdwaal maar kon darem daarin slaag om weer vinnig op die regte roete te kom en betyds te wees vir middagete.

Daar was ’n baie uitdagende aktiwiteit wat ook voltooi moes word. Die bestuurder van die voertuig is geblinddoek en moes dan slegs op sy maat se instruksies voortgaan. Met die laaste aktiwiteit, moes die deelnemers probeer om ’n vis te vang – wat ’n onvergeetlike samekoms!

Die aktiwiteite is terdeë geniet en die algehele atmosfeer tussen die deelnemers asook die toeskouers was gemoedelik. Baie geluk aan die volgende deelnemers: 1ste plek – Eugene Jacobs en Johan van der Merwe, met 34,5 punte (hulle het ’n kettingsaag ter waarde van R8 000-00 gewen) 2de plek – Jaap en Christa Naudé 3de plek – Herman Gerber en Schalk van Rooyen Na die prysuitdeling is daar heerlik saamgekuier om die braaivleisvure. Baie dankie aan elkeen wat die Boere Bosbou Rally bygewoon en ondersteun het.

Dankie aan die organiseerders vir die reël van ’n puik byeenkoms en daar word al reeds planne beraam om volgende jaar se geleentheid nóg beter te maak. Baie dankie aan elke borg en persoon wat hul hulp aangebied het.