AfriForum maak weer self die vleie skoon

AfriForum maak weer self die vleie skoon

AfriForum maak weer self die vleie skoon. Dit is ’n riem onder die hart wanneer ons mooi dorp se vleilandgebiede netjies onderhou word!

Op Vrydag, 22 Februarie, het lede van AfriForum Buurtwag in Piet Retief weer begin om beboste vleie skoon te maak. Die vlei wat grens aan Clarencestraat, is al vir ’n geruime tyd toegegroei met lang gras en plante.

Hierdie skep die ideale wegkruipplek vir kriminele wat daarvan hou om mense se eiendomme van hier af dop te hou asook die ideale stoorplek in die lang gras sodat hulle gesteelde goedere op ’n latere stadium kan gaan haal.

As die vleie skoon en netjies gehou word, sal dit beslis nie vir misdadigers moontlik wees om weg te kruip nie. Baie inwoners neem dikwels inisiatief en maak seker dat enige vleigebied rondom hul eiendomme op ’n gereelde basis onderhou word.

’n Inwoner van De Jagerstraat het selfs ’n verskeidenheid blomme in die vlei voor sy/haar eiendom geplant en dit vertoon pragtig. Volgens ’n verteenwoordiger van AfriForum Buurtwag, is die munisipaliteit al op verskeie geleenthede gevra om die vleigebiede skoon te maak, met amper geen sukses nie.

Indien jy self naby ’n vlei-/ veldgebied woon, neem dit gerus in jou eie hande en laat die area self skoonmaak. Indien jy hulp benodig, kontak gerus vir mnr. Willem Grobler, van AfriForum Buurtwag op 082 336 3303.

AfriForum OPS – 22 Februarie 2019

Om jou gemeenskap te beveilig is ’n spanpoging! Op Vrydagaand, 22 Februarie, het vrywillige lede van AfriForum Buurtwag deelgeneem aan ’n patrolleringsoperasie met die oog daarop om misdaad te bekamp en sigbaarheid in residensiële – asook besigheidsareas te beklemtoon.

Bykans 26 lede was teenwoordig asook 14 polisie– en vyf verkeersbeamptes. Die verkeers- en polisiebeamptes het die volgende suksesvolle arrestasies gemaak en boetes uitgereik:

  • 6 boetes is uitgereik vir persone wat sonder bestuurslisensies bestuur het
  • 2 boetes is uitgereik aan persone vir voertuiglisensieoortredings
  • 4 arrestasies is gemaak – bestuurders wat onder die invloed van alkohol betrap is
  • 1 boete is uitgereik aan ’n persoon wat nie by ’n stopstraat gestop het nie
  • 2 verdagtes is gearresteer vir die onwettige besit van dagga Baie dankie aan elke lid wat ’n bydrae gelewer het.

Dankie aan die donateurs en besighede vir die borgskap van vleis, water, koffie en nog meer en dankie aan die dames wat hand bygesit het met die verversings. Die volgende OPS sal in Maart plaasvind.

AfriForum Buurtwaglede word vriendelik gevra om asseblief die inisiatief te ondersteun en meer betrokke te raak. Te danke aan goeie bywoning van vrywillige lede, was Vrydagaand se operasie weer suksesvol. Saam kan ons almal ’n verskil maak en misdaad binne ons gemeenskap tot die minimum beperk.

Indien jy meer inligting oor die AfriForum Buurtwag in Piet Retief verlang of as jy dalk wil aansluit as ’n lid, kontak gerus vir mnr. Gerhard Böhmer op 083 727 4766.