18de Tambukistreek Konferensie

Tambukistreek Konferensie

“Die vrou van wie hier vertel word, ken u wel, sy is glad nie vreemd. In geloof volg ons nuwe paaie, VLU bring ons vroue saam.” – VLU lied

Op Saterdag, 23 Februarie 2019, was dit tyd vir vanjaar se Tambukistreek Konferensie in Ermelo. Vanjaar is dit deur die VLU Talento Mulher tak aangebied en die tema vir die dag was “Van geleentheid tot prestasie”.

Opening en Gebed is behartig deur Ds. S.P. Lourens van die Evangelies Gereformeerde Kerk, Ermelo en die gaste is deur Ans Barnard verwelkom. Alna Kapp het die voorstelling van die bestuurslede en gaste behartig en Cindy Coetzee het ’n groetboodskap van die VLUM presidente gedoen.

Anton Rogers, van Geonet Consulting, was die gasspreker van die dag en Danie Terblanche het die gaste deurentyd vermaak. Die dames moes blommerangskikkings volgens die tema, “Rooi en Romanties” maak en die eindprodukte het die beoordelaars se werk baie moeilik gemaak.

Dié tema was beslis puik uitgebeeld! Daar is nie net geklets, gebak, gebrou of gebrei tydens die konferensie nie, maar ook heerlik gesmul aan koffielikeur. Dit is ’n riem onder die hart om te noem dat Piet Retief se VLU-takke stof in die oë van die res van dié streek se takke geskop het!

Piet Retief Tak het algeheel eerste plek behaal, Saligna tak (Piet Retief) was in tweede plek aangewys, Platrand tak het derde geëindig en Kaleidoskoop tak (Piet Retief) was vierde.

Baie geluk aan Rika Wolmarans wat ook aangewys is as die Tambukistreek se skakelbeampte. Helena Joubert is genomineer as deel van die streeksbestuur. Dit is ’n groot eer en prestasie!

VLU-Saligna nuus
Sir Percy Wyn-Harris (Engelse bergklimmer, Koloniale Administrateur en seiljagvaarder) het lank gelede gesê: “Vaardigheid in fotografie kom deur baie oefening en kan nie gekoop word nie”.

Die dames van die VLU-Saligna tak het onlangs aan huis by Shirley Scheepers gaan vergader en Belinda Ludick het ’n hand bygesit met die verrigtinge. Die dames is bederf met smaaklike gebak, wat koffiekoekies “met ’n twist” ingesluit het.

Die dames het heerlik gespeel en mekaar se hande gefotografeer
Die dames het heerlik gespeel en mekaar se hande gefotografeer

Dit was heerlik! Shirley het die dames ’n bietjie meer oor fotografie geleer en ook vir die dames die fynere kunsies hiervan gewys. Vir aspirant fotograwe het sy wenke gehad om altyd oplettend te wees vir skaduwee en beligting speel ook ’n baie groot rol in die neem van die perfekte foto.

Die agtergrond waarteen jou voorwerp geneem word, moet ook noukeurig gekies word. Die dames kon nie wag om self te begin foto’s neem nie en het toetslopies gehad waarin hulle mekaar se hande op foto’s kon vaslê!

Dit was ’n baie leersame en interessante vergadering. In Maartmaand maak die VLUSaligna dames weer só! Tot volgende keer . . . Saligna groete