Kyk hoe mooi bot die India-bome

India-bome

As jy ’n kunstenaar was, sou jy darem vreeslik gesukkel het om die skakerings van pienk en pers, waarin die Pride of India-bome bot, te meng, want net ons Skepper kan iets so perfek maak!

Piet Retief se strate is oral gevul met hierdie pragtige bome in skakerings van pienk, pers en selfs ’n wit een hier en daar. Hierdie bome, ook bekend as die Gouereën-boom of die Sjina-boom is ’n eksotiese spesie en een van die bome ter wêreld wat die meeste blomme dra.

Volgens Wikipedia is die Pride of India ’n vinnig groeiende, immergroen en middelslag-grootte boom. Daar is egter ook ’n wye verskeidenheid spesies van hierdie bome wat beskutting bied vir allerlei spesies voëls asook insekte.

’n Volwasse Pride of India behoort tweejaarliks te bot en só ’n tipe boom skep die perfekte fokuspunt in ’n pragtige tuin. Hierdie bome is ook gehard en kan oor die weg kom met baie min water. Dit groei baie mooi in direkte sonlig en het jy geweet dat die Pride of India bome dikwels geplant word om gronderosie te bekamp?

Nie net is hierdie ’n pragtige boom nie, maar hulle het ook uitstekende medisinale eienskappe. Daar is al genoem dat die boom se blare in ’n tee gedrink word vir ’n magdom kwale soos blaasinfeksie, bloeddruk en selfs diabetes.

Daar word ook nêrens genoem dat die boom, blare of blomme giftig is nie, maar dat mense dit wel al gebruik het om hul liggame te ontgif. Die Pride of India bome wat in Piet Retief se strate pronk is beslis opvallend.

’n Mens kan nie anders as om hul prag te bewonder nie. Dalk moet daar meer van hierdie eyecatchers geplant word, sodat meer strate ten minste twee keer per jaar opgetooi kan wees en die slaggate minder opvallend is