Michael Blignaut - Hemelwater

Met die enorme sukses wat die talentvolle Michael Blignaut se eerste enkelsnit genaamd, Naglig, behaal het, kan aanhangers nou uitsien na sy tweede vrystelling, Hemelwater, wat binnekort gehoor kan word.

Michael het gedurende 2018 hard gewerk om sy lewenslange droom te bewaarheid en sy gewilde liedjie Naglig is tans op die Top 30 van SFM, in die Kaap. Hierdie pragtige treffer het vir vier weke na mekaar die nommer een plek ingeneem!

Michael Blignaut het die Excelsior Nuus onlangs laat weet dat hy die afgelope twee weke volstoom besig was om sy tweede enkelsnit Hemelwater op te neem en dat dit op 21 Februarie 2019 vrygestel sal word.

Hy het ook gedurende verlede week ’n fotosessie vir sy album, saam met die bekende sanger, Willem Botha, gedoen. Hy sê dit was vir hom ’n groot eer en ’n ongelooflike ervaring.

In Maart beplan Michael om besoek in die Kaap te gaan aflê waar hy ’n reeks ateljee-onderhoude gaan doen en ook sal kennis maak met die verskeie radiostasies en omroepers – dit gaan ook vir hom ’n reusestap in die regte rigting wees.

Daar is ook genoem dat die kandidate vir Ghoema Musiektoekennings eers op ’n latere stadium bekendgemaak sal word, maar dat hy wel op die aand van Woensdag, 17 April, by dié prestige-geleentheid sal wees.

Die gemeenskap van Piet Retief staan bankvas agter Michael en weet reeds dat hy ’n groot sukses van sy tweede treffer ook sal maak. Voorspoed Michael en alles van die beste word jou toegewens!