Op Vrydag, 18 Januarie 2019, het die tyd aangebreek vir vanjaar se HPR matrieks om die tradisionele, jaarlikse fietstoer voort te sit.

Geklee in spoggerige t-hemde wat lees: last class of the decade, valhelms, fietsrydrag en báie water, het hul vroegoggend vanaf die Hoërskool weggetrek om ‘n 23 kilometer rit aan te durf. Van die fietstoer deelnemers het by die 10 kilometer merkverder gestap terwyl die bittereinders voort getrap het.

Die graad 11-ouers het voorsiening gemaak vir verversings by die waterpunt aangesien dit maklik een van die warmste dae van Januarie nóg was. Die fietstoer fietsryers het gelukkig almal veilig by die dam aangekom en sommer baie vining die skoene en veiligheidstoerusting laat waai vir ‘n heerlike afkoel in die soel water.

Daarna het die mae begin grom en is daar lekker boereworsrolle en yskoue koeldrank geniet. Vanjaar se fietstoer was weereens ‘n belewenis vir elkeen wat deelgeneem het. Die leerlinge sien nou baie uit na hul matriekjaar, stampvol uitdagings.

Baie dankie aan Pick n Pay Woodhill Sentrum vir die borgskap van die themde asook mnr. Malan en sy graad 12-span. Dankie ook aan elke ouer wat ‘n hand bygesit het om die uitstappie ‘n wonderlike ervaring te maak.