Wakkerstroompad het steeds géén strepe op

Wakkerstroompad
Daar is geen sigbare strepe op die Wakkerstroompad nie en dit kan maklik tot 'n ongeluk lei

Die Excelsior Nuus het in 2017 al berig oor die Wakkerstroompad wat nie geverf is nie en dit skep ’n gevaar vir motoriste wat nie kan sien waar die dubbelbane is nie.

Op Vrydag, 23 November, is dié foto geneem net verby die brug en dit is duidelik dat daar nog geen strepe op die Wakkerstroompad aangebring is nie.

Wanneer motoriste mekaar verbysteek op hierdie betrokke pad, mag ongelukke onvermydelik wees. Die betrokke pad word ook dikwels deur swaarmotorvoertuie gebruik en motoriste kan hulself maklik misgis met die hoeveelheid spasie wat daar eintlik is wanneer ’n voertuig verbygesteek moet word.

‘n Paar weke gelede, is verskeie padwerkers in die dorpsgebied gesien waar hulle vierrigtingkruisings geverf het en dit sal hoog op prys gestel word as die betrokke departement ook spoedig aandag sal gee aan die Wakkerstroompad. Die spoedhobbels wat op die betokke pad aangebring is, laat ook deesdae veel te wense oor.

Daar is van dié “hobbeltjies” net nie meer daar nie en dit veroorsaak dat motoriste nou deur die gapings jaag, wat beslis nie hulle spoed demp nie. Só ’n insident het op Vrydag, 23 November plaasgevind toe ‘n bestuurder in die linkerbaan (vanaf die dorp) onderweg was na sy werk toe.

’n Motoris in die regterbaan, wat langs hom gery het, het gesien dat daar ’n gaping in die spoedhobbel is en het per abuis voor die persoon ingedraai sodat hy nie nodig sou hê om sy spoed te verminder om bo-oor die hobbels te ry nie.

Dit het egter tot ’n ongeluk gelei aangesien hy met die voertuig in die linkerbaan gebots het. Wees dus maar versigtig wanneer jy in die omgewing bestuur. Hou by die beperkte spoed en laat die jaagduiwels maar oor die hobbels jaag en hul motors verniel!