Verwoestende storms tref dele rondom Piet Retief

Verwoestende storms tref dele rondom Piet Retief
Bome is ontwortel in Dundee en Glencoe na 'n erge storm op Sondag, 9 Desember

Gedurende die afloop van verlede week, het verwoestende storms dele in Swaziland sowel as Dundee en Glencoe getref en geweldige skade aangerig.

Op Dinsdag, 4 Desember, het verwoestende storms buite Mbabane (Bhunya- gebied) losgebars. Storm Report SA beweer dat dit moontlik ’n mesosikloon kon wees wat dikwels in ’n tornado ontwikkel.

Die storm het gepaardgegaan met weerlig en tennisbal-grootte haelkorrels. Plantasies is platgevee en ’n trop beeste is blykbaar ook doodgeslaan deur swaar weerlig. Volgens Storm Report SA word Swaziland gereeld blootgestel aan hoë humiditeit en Mosambiek se tropiese weerstoestande is ook ’n bydraende faktor.

Daar word beweer dat in die middel 70’s ’n tornado Swaziland getref het wat treintrokke opgelig en weer laat neerstort het. Op Sondag, 9 Desember, is daar ook berigte ontvang van ’n hewige storm wat die omgewing van Dundee en Glencoe getref het, met gepaardgaande reënbuie en stormsterk wind. Bome is ontwortel en wonings se dakke is afgewaai.

Inwoners van die gebied is besig om die skade te bepaal. Piet Retief het goeie reën ontvang en kon ons ook die mooiste wolkformasies sien, maar gelukkig het die opbou van die wolke vir ons slegs goeie reën gebring en geen skade is aangerig nie.