Skuldiges gevonnis vir Friedel Filter plaasmoord

Friedel Filter
Mnr Friedel Filter is op Vrydag, 13 Mei 2016, op sy plaas vermoor

Op Dinsdag, 27 November, het die Hooggeregshof in Newcastle ’n welkome uitspraak gelewer in die moordsaak waar twee beskuldigdes betrokke was by die plaasmoord van ’n bejaarde boer van die Lüneburg omgewing, mnr. Friedel Filter.

Op Vrydag, 13 Mei 2016, is mnr. Filter wreedaardig doodgeskiet op sy plaas, Frischgewagt, by Braunschweig naby Lüneburg. Die verdagtes het te voet gevlug en het daarna nóg ’n gemeenskapslid in ’n nabygeleë pad geskiet.

Nadat hierdie saak vir twee jaar al ondersoek is, is beide mans skuldig bevind op die volgende: 1 – Moord op mnr. Friedel Filter 2 – Poging tot moord op mnr. George Mdlalose 3 – Gewapende roof op mnr. George Mdlalose Beskuldigde nommer 1 is soos volg gevonnis: Klag 1 – lewenslange tronkstraf Klag 2 – 10 jaar Klag 3 – 15 jaar Beskuldigde nommer 2 is soos volg gevonnis: Klag 1 – lewenslange tronkstraf Klag 2 en 3 – 15 jaar. Beide se aansoek tot verlof op appèl is van die hand gewys.

’n Derde verdagte het tydens die verhoor as staatsgetuie opgetree en hy is vrygespreek in hierdie saak terwyl ’n vierde verdagte steeds voortvlugtig is. Dit is verblydend om te verneem dat die gereg sy gang gegaan het en dat mnr. Filter se familie in ’n mate berusting kan vind in hierdie uitsprake.