Liefdevolle herinneringe aan Joe Ingram

Liefdevolle herinneringe aan Joe Ingram

Familie, vriende en die gemeenskap van Piet Retief is in rou gedompel na die skielike heengaan van ’n staatmaker Joe Ingram van die dorp.

Met hierdie woorde het wyle Joe Ingram in 2009 uit die onderwys getree na 42 jaar se ononderbroke diens. Mnr. Joe Ingram is na ’n siekbed van ongeveer vier weke, op Dinsdag, 13 November, oorlede. Daar is baie mense van Piet Retief wat nie vir oom Joe in sy blou/silwer Nissan Skyline sal kan vergeet nie.

Ook is daar verskeie Piet Retiewers wat self by hom skoolgegaan het – mens sal aan mnr. Ingram terugdink met ‘n knop in die keel! Hy het voorwaar ’n unieke manier van dinge doen gehad en sy leerling kon spel! Joe Ingram is op 6 September 1944 in Johannesburg gebore.

“Wanneer die Groot Tellinghouer kom om jou puntetelling op te skryf, sal Hy nooit aanteken of jy gewen of verloor het nie, maar hoe jy gespeel het.” – Joe Ingram

Hy het in Parkhurst, Johannesburg grootgeword en sy laerskoolloopbaan by Jan Cilliers Laerskool voltooi waarna hy by Helpmekaar Seunskool gematrikuleer het. Daarna het hy Onderwys gaan studeer by die Goudstad Onderwyskollege en het hy in 1967 begin skoolhou.

In 1976, het hy en mev. Christine Ingram in die huwelik getree en hul het twee seuns, Lionel en Ignes gehad. Die gesin het in 1985 by die gemeenskap van Piet Retief aangesluit. In 1985 is mnr. Ingram aangestel as die Adjunkhoof by Laerskool Piet Retief waar hy skoolgehou het tot in 2009.

Na sy aftrede as onderwyser, het hy by die Piet Retief Rugbyklub betrokke geraak en teen einde 2017 het hy daar uitgetree. Joe Ingram was ’n gedugte Piet Retiewer wat graag sy medemens met grappies vermaak het. Hy laat sy vrou, Christine, twee seuns en twee skoondogters agter. So ook sy vyf kleinkinders.

Op Dinsdag, 20 November, is daar ’n Gedenkdiens vanuit die NG Kerk Piet Retief vir hom gehou en sy familie en vriende bedank graag elkeen vir hul mooi boodskappe, bemoedigende woorde en bystand in hierdie hartseer tyd.

Hiermee wil die Excelsior Nuus ook graag ons innige meegevoel betuig met die familie en vriende. Oom Joe het gereeld by die koerant ’n draai kom maak en sy vriendelike, opgewekte persoonlikheid sal gemis word! Rus in Vrede, oom Joe!