Lag en die wêreld lag saam

Kyk hoe lekker lag hierdie oulike dogtertjie se hond saam met haar (foto krediet: Inge Johannes)
Kyk hoe lekker lag hierdie oulike dogtertjie se hond saam met haar (foto krediet: Inge Johannes)

Wanneer laas het jy werklik soos ’n kind uit jou maag uit gelag? Daar is ’n spreekwoord wat lui, “lag en die wêreld lag saam; huil en jy huil alleen” en as ’n mens ’n bietjie rondkyk, besef ’n mens opnuut dat die wêreld vandag te vol bekommerde en ernstige gesigte is.

Deesdae word daar maar min grappies vertel – net strak gesigte oral waar jy kyk! Word daar nog ’n grappie of twee in jou huis vertel? Lag julle huisgesin so lekker saam dat die trane begin loop? Huisgesinne met jong kinders het nog baie geleentheid om saam te lag want kinders kom soms op met die snaaksste sêgoed.

Sien jy dit nog raak of is jy so toegegooi onder kwellinge en elke dag se take dat niks meer vir jou snaaks is nie? Hoe ouer die kinders word, hoe meer behep raak hulle met vandag se tegnologie.

Hulle is pal voor die rekenaar of hoor jou skaars praat soos wat hul met hul selfone besig is. Die kinders kyk graag komiese televisieprogramme, maar deel maar min staaltjies met die res van die huisgesin. Vreemd genoeg, word grappies ook daagliks op Facebook en Twitter oorvertel – aan lyflose (online) vriende.

Ma en pa werk hard om die pot aan die kook te hou, so daar is nie veel tyd vir grappies maak nie. Daar is min dinge wat snaaks gevind kan word in pappa en mamma se beroepe en soveel moontlik moet op een dag afgehandel word sodat hulle môre net weer van vooraf kan begin.

Intussen moet die kinders versorg word, die huishouding moet seepglad verloop en almal moet gelukkig gehou word – maar daar is nie meer tyd vir lekker-lag hier en daar nie. Naweke se pret en plesier is ook iets van die verlede want skoolgaande kinders het spertye vir take en eksamens. Alles so ernstig!

Daar is nie meer tyd om die kampgerei in te pak en goeie, kwaliteit tyd saam met die gesin in die natuur deur te bring nie. Alles is net ’n gejaag na wind! Sou dit nie lekker wees om so elke nou en dan tot stilstand te kom en jou kop agteroor te gooi en net sorgeloos te LAG nie?

Daar word darem so nou en dan nog gelag as die familie kom kuier en almal grawe ou staaltjies uit, maar ongelukkig word hierdie kuiertjies ook al hoe minder want almal het verpligtinge om na te kom en brandstof is duur!

Op hierdie wyse lewe ons almal verby mekaar. Ons verval in ons daaglikse roetine en vergeet om te lag. Ons maak min tyd vir mekaar terwyl ons té ernstig deur die lewe gaan. Neem gerus so af en toe ’n blaaskans en LAG vir ’n SLAG!