Gesondheidsdepartement wanbestee bykans R5 miljard

Gesondheidsdepartement van Mpumalanga wanbestee bykans R5 miljard
Mnr Hennie Bekker, Distrikkoordineerde vir AfriForum in die Laeveld

Die Mpumalanga Gesondheidsdepartement se jaarverslag het ’n onreëlmatige besteding van bykans R5 miljard in die 2016/17 finansiële jaar getoon en AfriForum is van mening dat die misbruik van belastingbetalers se geld ’n nasionale krisis is.

Mnr. Hennie Bekker, AfriForum se Distrikskoördineerder vir die Laeveld, het op Dinsdag, 13 November, aan die Excelsior Nuus bevestig dat dié burgerregte organisasie op Dinsdag, 6 November 2018, strafregtelike klagte teen die hoof van Mpumalanga se Department van Gesondheid, Savera Mohangi, ingedien het.

Verder het AfriForum ook beplan om tussen Maandag, 5 November en Vrydag, 9 November, al nege provinsies te besoek waar strafregtelike klagte teen die verskeie hoofde van elke provinsiale Departement van Gesondheid ingedien sou word.

Mnr. Bekker het in ’n onlangse artikel deur Marelie Greeff genoem dat daar druk op die Nasionale Vervolgingsgesag geplaas moet word om ’n voorbeeld te maak van Departementshoofde wat versuim om hul pligte na te kom.

Mpumalanga se jaarverslag van 2016/17 het ook ‘n verdere verkwistende besteding van R2,3 miljoen aangedui en dit is verreweg die grootste wanbesteding van al nege provinsiale Gesondheidsdepartemente.

Ongemagtigde besteding word gesien as alle uitgawes wat aangegaan word en wat teenstrydig is met die Wet se voorskrifte. Uitgawes wat onnodiglik aangegaan is en voorkom kon word indien redelike voorsorg getref was, word beskou as vrugtelose en verkwistende besteding.

Indien jy hierdie inisiatief deur AfriForum wil ondersteun, SMS jou naam na 45344 (teen R1-00 per SMS) of onderteken die klagte op AfriForum se webtuiste by www. stopkorrupsie.co.za