Elfieland Kleuterskool leer meer oor lugvervoer

Elfieland Kleuterskool

Gedurende die afloop van verlede week, het Elfieland Kleuterskool se kleinspan meer geleer oor lugvervoer en is hulle bederf met ’n uitstappie na Jenzy Air, net buite Piet Retief.

Mnr. Brent van Zyl het die Elfieland Kleuterskool kinders alles rondom vliegtuie vertel en hulle het behoorlik aan sy lippe gehang met vrae en wou nog meer en meer leer. Die kinders is vermaak deur vlieëniers wat vir hulle gewys het hoe ’n vliegtuig opstyg en hoe daar besproeiing gedoen word. Hulle is selfs ingelig oor hoe die vlieëniers vure natspuit – dit was omtrent interessant!

Al drie die klasse wat op die uitstappie was, het die ervaring terdeë geniet en daar is sommer op ’n groen kolletjie gras, heerlik piekniek gehou. Die kleuters is bederf met lekker sjokolade en aartappelskyfies!

Baie dankie aan elkeen wat die uitstappie moontlik gemaak het, met al die opgewondenheid nou na die uitstappie, behoort Piet Retief een van die dae ’n paar ekstra entoesiastiese vlieëniers te verwelkom!