So het die 1ste Desember aangebreek en mense begin al hoe meer die vakansiegevoel kry, maar saam met dít, wil dit blyk of die partytjies – én selfs troues – in Park Singel geweldig toeneem.

Die Excelsior Nuus het op verskeie geleenthede berig oor die “onwettige” partytjies wat in dié betrokke park gehou word. Van besoekers wat die park misbruik en openbare vure maak, tot die van hulle wat die tuine gebruik so asof dit publieke toiletgeriewe is! In ’n vorige artikel (gedateer 13 Oktober 2017), is die Provinsiale Wetgewing op opelug gebruik van alkohol gepubliseer, wat uitdruklik uitwys dat alkoholmisbruik in ’n publieke area teen die wet is.

In 2017 het die Burgemeester die omheining van dié betrokke park laat verwyder sodat enigiemand toegang kon verkry en die park se geriewe kon geniet, maar dit skep egter groot probleme aangesien besoekers die park vir ’n geruime tyd al gebruik vir “onthaal” waartydens hulle besope raak en onverskillig optree.

Inwoners in die omgewing is steeds ontstoke aangesien die partytjiegangers tot in die middernagtelike ure musiek oorverdowend hard speel, hulle gebruik ook die inwoners se tuine om hul nood te verlig. Daar was selfs ’n paar gevalle waar mense betrap is terwyl hul seksuele omgang in die tuine gehad het – dis ’n skreiende skande! Hierdie partytjies duur naweek na naweek voort!

Verlede naweek is daar weer ’n massiewe tent in die park opgerig en ’n trouplegtigheid is daar gehou. Die partytjies in die park is egter nie die enigste probleem nie – Kerkstraat word nou ook gebruik as ’n resiesbaan en dit is uiters gevaarlik! Wat sal gebeur indien ’n besope persoon die pad probeer oorsteek en voor ’n voertuig beland? Of ’n ernstige ongeluk, wat mense se lewens eis, daar plaasvind?

Wie is dán verantwoordelik? Park Singel is deesdae ’n uiters onaangename plek. Die reuk van urine vul die lug, gebreekte drankbottels lê oral in wat eens pragtige tuine was. Oorblywende as waar vure gemaak is, is volop! Dan noem ’n mens nog nie eers die gebruikte kondome wat oop en bloot rondlê nie! Alhoewel munisipale werkers op ’n weeklikse basis die park gaan skoonmaak, bly dit steeds ’n groot probleem oor ’n naweek en veral nou, wanneer die Feestyd weer voorlê.

Inwoners in die gebied het telke male al klagtes gelê en om hulp gevra van die owerhede, maar dit wil voorkom of dit op dowe ore val. AfriForum se Buurtwag het gedurende verskeie patrollies op die park toegeslaan en in baie gevalle is mense gearresteer vir drankgebruik, maar dít stuit beslis nie die besoekers nie! Volgende naweek is hulle maar net weer daar!

Mnr. Gerhard Böhmer, van AfriForum Buurtwag in Piet Retief het op Maandag, 3 Desember, aan die Excelsior Nuus genoem dat hulle ’n vergadering beplan met die Stasiebevelvoerder van die plaaslike SAPD, Luitenant Blose en dat terugvoer in dié verband aan die Excelsior Nuus gegee sal word.

Die polisie het self op verskeie geleenthede individue gearresteer vir drankgebruik in die publiek en weekliks word meer en meer mense vasgevat deur die polisie en verkeerspersoneel vir hierdie tipe oortredinge.

Die vraag is – word genoeg hieromtrent gedoen? Dit hou beslis nie die partytjiegangers weg van die parke af nie en skuldige partye skroom ook nie om agter hul voertuig se stuurwiel in te skuif nie, wat beteken hulle bestuur ook onder die invloed van alkohol – nóg ’n oortreding! Stel jouself vir oomblik voor dat jý self ’n inwoner van daardie area is? Sou jy daarvan gehou het om gebruike toiletpapier of gebreekte bierbottels uit jou tuin te haal? Wat moet toeriste dink wat deur ons dorp reis as so ’n gemors hul begroet?