Carla en Dónel Uys sê baie dankie

Dónel Uys
Carla Griessel het gewoeker met haar Landsdiensprojek vanjaar

“Graag wil ek hiermee vir my Hemelse Vader net baie dankie sê vir die voorreg wat ek gehad het om die projek te loods met al my ondersteunende familie, vriende en CMRfamilie.” – Dónel Uys

Carla Griessel en Dónel Uys is twee leerlinge van Laerskool Piet Retief wat vanjaar deelgeneem het aan ’n nasionale Landsdiensprojek waar hulle die gemeenskap betrokke moes kry deur ’n instansie te identifiseer en skenkings in te vorder om sodoende hulp te verleen aan behoeftiges.

Carla en Dónel Uys sê baie dankie
Donel Uys het ‘n enorme verskil gemaak in minderbevoorregte mense se lewens

Carla het besluit om uit te reik na minderbevoorregte gemeenskappe waar kinders ’n tekort het aan die nodige items wat hul in staat stel om van kleins af te leer. Sy het ’n nedersetting genaamd Silethi Éthemba besoek waartydens sy ’n familie met vyf weeskinders gehelp het. Sy het nie-bederfbare voedsel, speelgoed, klere en opvoedkundige items ingesamel.

In dieselfde nedersetting, het sewentien pensionarisse basiese sanitêre items ontvang asook ’n voedselpakkie. Vyftien tieners is ook tydens haar uitreik gehelp met die nodige. Dónel het besluit om kinders onder die sorg van die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) in Piet Retief onder haar vlerk te neem en het weggespring met verskeie fondsinsamelingsprojekte.

Weens die feit dat Dónel se projek kinders aangeraak het, word hul identiteit beskerm en kon sy gedurende die proses, geen foto’s van die oorhandigings aan die gesinne of van die kinders publiseer nie. Sy het klere, niebederfbare voedsel, linne, speelgoed, opvoedkundige items en vele meer ingesamel en op Vrydag, 21 September, het sy die leerlinge by Maranatha Skool toegespreek en gesels oor haar projek.

Maranatha Skool het hand bygesit en ’n groot skenking aan Dónel oorhandig. Dit is egter moeilik om elkeen persoonlik te bedank en daarom wil hierdie twee jong meisies ’n algehele bedanking rig aan elkeen wat ’n skenking gemaak het. Beide se projekte was ’n groot sukses en hul beoog ook om voort te gaan en mense in nood te help.

Baie dankie Carla en Dónel vir jul onbaatsugtigheid. Julle het vanjaar vir ons gewys dat goedhartigheid ’n mens niks kos nie! “Ek wens elkeen ‘n Geseënde Feestyd en Voorspoedige 2019 toe. Mag elkeen veilig wees waar jul ook al reis en God se Hand van beskerming oor elkeen wees.” – Carla Griessel.