Hope pret by vanjaar se Wittenberg Funride

Wittenberg Funride

Met slegs ’n handjie vol ligte beserings en nie te ernstige insidente nie, was vanjaar se Wittenberg Funride weereens ’n reusesukses!

Van vroegmôre af op Saterdag, 27 Oktober, met die son wat reeds warm gebak het, het opgewonde jong en ouer deelnemers stadig maar seker begin om hul motorfietsdrag aan te trek vir die Wittenberg Funride 2018. Vanjaar se byeenkoms was in samewerking met die Afrikaanse Lutherse Gemeente van Piet Retief se jaarlikse basaar, wat gesorg het vir heerlike eetgoedjies, ietsie koud om te drink asook hope aktiwiteite wat die jongspan regdeur die dag besig gehou het.

Om 09:00 was alle inskrywings vir die pretrit voltooi en is daar by die wegspringpunt bymekaargekom. Tussen die luide gedreun van motorfietse van die bykans 150 inskrywings, is die roete aan die deelnemers verduidelik asook verskeie veiligheidsmaatreëls bespreek. Daar was ’n 50 kilometer roete vir volwassenes en die meer ervare ryers en dan was daar ’n 20 kilometer pretrit vir die jonges.

Die roetes het ook bestaan uit ’n deurgangspunt by ’n rivier, wat op dié warm dag, beslis ’n verligting was! Van die meer ervare deelnemers het die 50 kilometer in rekordtyd kafgedraf terwyl ander besluit het om dit liewer net een keer te voltooi. Daar is ook genoem dat twee jong latte, van net 7-jaar oud, die pretrit heeltemal op hul eie voltooi het.

Baie kinders het dit saam met ’n ouer voltooi, maar hierdie twee het besluit waar daar ’n wil is, is ’n weg – mooi so kêrels! Geen wenners word genoem nie aangesien daar net vir die lekkerte gery is.

Die gelukkige trekking het ook vele pryse op die spel gehad en min mense is met leë hande huis toe en omstreeks 16:00 kon gaste die vermaaklike Hans Drommedaris se vertoning geniet. Daar was ook ’n interessante veiling en vleisverkope teen billike pryse.

Die Wittenberg Off-Road Klub en die organiseerders van die Basaar bedank graag elke besoeker en deelnemer. Baie dankie aan al die borge wat voorsiening gemaak het vir die pryse wat tydens die gelukkige trekking oorhandig is. Eerskomende naweek is dit tyd vir die Wittenberg Enduro – nóg een wat beslis nie misgeloop kan word nie.