Weer Mpumalanga Krieketliga wenners

Mpumalanga Krieketliga
2018 se O/15 Mpumalanga Ligawenners – Hoërskool Piet Retief!

Vir die tweede agtereenvolgende jaar, is Hoërskool Piet Retief se O/15’s gekroon as die Mpumalanga Krieketliga wenners!

Op Vrydag, 19 Oktober, het Hoërskool Piet Retief se span gereed gemaak vir ’n uithalerwedstryd teen hul sterk opponente van Ermelo Hoërskool. Piet Retief se spelers het reeds van die begin van die seisoen af naam gemaak en hard gewerk om te verseker dat hulle aan vanjaar se finaal sou deelneem.

Die weer het perfek saamgespeel en aanskoulike krieket is deur beide spanne gespeel, maar daar kon aan die einde van die dag slegs een wenner wees . . . Luco van der Walt moker sommer vinnig 75 lopies van slegs 69 aflewerings en Matthias Gevers teken 53 lopies aan van 50 balle, nie uit nie.

Luco se boulwerk was natuurlik ook puik en hy laat 6 paaltjies van 50 lopies kantel – mooi so manne! Piet Retief se veldwerk was van Protea-gehalte en hulle beklink die wedstryd met ’n oorwinning van 223 teenoor Ermelo se 123 lopies, almal uit.

Baie geluk aan die O/15-span asook hul afrigters, mnre. P. de Waal en A. Yiollaris. Julle het baie hard gewerk vir hierdie titel en verdien dit! Hoërskool Piet Retief wil graag vir mnr. Yiollaris hartlik bedank vir sy betrokkenheid by die skool se krieket die afgelope vier jaar.

Hy en sy gesin word net die beste toegewens vir hul nuwe lewensreis waar hulle na Engeland immigreer. Ons vertrou dat hy daar ook vir ’n paar Engelse “Rose”, boerekrieket sal leer!