Verskeie beserings en twee sterftes

beserings
Een persoon is ernstig beseer na ’n ongeluk tussen ’n VW Polo en ’n Ford in Kerkstraat op 20 Oktober

Verskeie beserings en twee sterftes het die afgelope twee weke plaasgevind gedurende ’n magdom ongelukke wat in en om Piet Retief plaasgevind het.

Die volgende ongeluksverslae is verskaf deur die plaaslike Nooddienstepersoneel. Maandag, 15 Oktober 2018: Omstreeks 18:30, was ’n grys Kia en ’n grys Toyota Corolla in ’n botsing naby die indraai van Sundowner Lodge betrokke. Volgens die verslag het die bestuurder van die grys Kia aangedui dat hy regs wou draai en die bestuurder van die Toyota Corolla het van agter af in die Kia vasgery. Daar is geen beserings tydens hierdie ongeluk opgedoen nie. Donderdag, 18 Oktober 2018: Twee passasiers is in ’n bedenklike toestand, terwyl nog drie ernstig beseer is na ’n ongeluk op die Pongolapad, omstreeks 17:50.

’n Minibus-taxi se band het gebars, die bestuurder het beheer verloor en sy voertuig gerol. Die beseerdes is per ambulans na die naaste hospitaal afgvoer. Vrydag, 19 Oktober: Twee persone het beserings opgedoen gedurende ongelukke op Vrydag, 19 Oktober.

‘n Fietsryer is raakgery deur ’n voertuig en ’n voetganger is deur ’n motorfiets getref. Bestuurders word gevra om te alle tye oplettend vir voetgangers en fietsryers te wees. Om 12:50, is ’n fietsryer op die Driefontein-/ Panbultgrondpad raakgery en hy het ernstige beserings opgedoen. Volgens die bestuurder van die Nissan NP200, het die fietsryer voor hom ingedraai en gevolglik het ’n botsing plaasgevind.

’n Plaaslike afleweringsmotorfiets was in ’n ongeluk betrokke op die Wakkerstroompad. Teen 17:00 is Noodpersoneel ontbied nadat die bestuurder van die motorfiets ’n pendelaar raakgery het. Die bestuurder het genoem dat die persoon voor sy motorfiets ingeloop het, hy hom getref het en dat die motorfiets omgeval het. Die twee persone betrokke het ligte beserings opgedoen.

Saterdag, 20 Oktober: ’n Ongeluk waarin een persoon ligte beserings en nog een ernstige beserings opgedoen het, het omstreeks 20:25 in Kerkstraat gebeur. Volgens die ongeluksverslag, het die bestuurder van ’n grys Ford op die ongelukstoneel genoem dat hy in Pongola se rigting gery het, toe die bestuurder van ’n wit VW Polo by die verkeerslig naby TWK Toyota vanaf die Sasol Vulstasie, voor hom ingedraai het.

Sondag, 21 Oktober: Ongeveer 13:30, is Noodpersoneel ontbied na ’n ongelukstoneel op die Paulpietersburgpad. Na aanleiding van die verslag, blyk dit of die bestuurder van ’n Nissan beheer oor die voertuig verloor het en dit omgeslaan het. Slegs een persoon het beserings opgedoen en is op die toneel behandel. Woensdag, 24 Oktober: ‘n Gru-ongeluk het omstreeks 15:00 op ’n grondpad na Bothashoop plaasgevind, wat die lewens van twee mense geëis het.

Die ongeluksverslag dui aan dat die bestuurder van ’n Ford Ranger op die grondpad gery het, beheer oor die voertuig verloor het en ’n boswerker, wat langs die pad besig was met haar dagtaak, noodlottig getref het. Die bakkie het in ’n gekapte plantasie tot stilstand gekom. Donderdag, 25 Oktober:Vier persone het etlike beserings opgedoen nadat die bestuurder van ’n VW Polo op die Pongolapad beheer verloor en sy motor gerol het.

Die beseerdes is per ambulans na die naaste hospitaal afgevoer. Op dieselfde dag, omstreeks 20:00, is ’n ongeluk op die Ermelopad gerapporteer. Twee persone het ligte beserings opgedoen nadat die bestuurder van ’n silwer-grys Toyota Corolla ’n wit Toyota Hilux bakkie probeer verbysteek het. Die bestuurder van die Corolla het ’n aankomende voertuig gewaar en probeer uitswenk. Hy het beheer oor die voertuig verloor en teen die Hilux bakkie se kant gebots.

Slegs een uur later, teen 21:00, is Noodpersoneel weer uitgeroep na nóg ’n ongeluk op die Ermelopad waartydens ’n blou Toyota Corolla teen ’n vragmotor gebots het. Met hul aankoms was die vragmotor nie meer op die ongelukstoneel nie. Geen ernstige beserings is opgedoen tydens hierdie ongeluk nie.

Vrydag, 26 Oktober: ‘n Voetganger is omstreeks 20:00 naby Panbult doodgery. Volgens die ongeluksverslag, is daar ’n verlate VW Polo op die toneel gevind en daar was geen bestuurder teenwoordig nie. Die saak word tans ondersoek oor hoekom die bestuurder die ongelukstoneel verlaat het. Foto’s van hierdie ongeluk kon weens grusame besonderhede, nie gepubliseer word nie.

Sondag, 28 Oktober: ’n Ongeluk waarin drie voertuie betrokke was, het drie persone met ernstige gesigbeserings en twee individue met slegs ligte beserings gelaat. Om 17:00, het die bestuurder van ’n Mazda 323 ’n Toyota Hilux probeer verbysteek in Brandstraat. Die bestuurder van die Mazda was op pad dorp toe van Mahamba af.

Toe die bestuurder ’n aankomende voertuig sien, het hy probeer uitswenk, maar kon nie die onvermydelike semi kop-aan-kop botsing met ’n VW Polo verhoed nie. Die Mazda het daarna in die rondte begin tol en ook teen ’n bakkie gebots. Motoriste word weereens gevra om teen die toegelate spoed te bestuur. Maak seker jy is ten volle bewus van alles rondom jou – voetgangers en diere ingesluit.