Praktiese Skietklubnuus

Praktiese Skietklubnuus
Skietpieties - Trichardt 6 Oktober 2018

Praktiese Skietklubnuus. Saterdag, 6 Oktober 2018, was spesiaal gemaak vir ons om op die skietbaan te wees. Poeierblou lug, ‘n aangename temperatuur en ‘n ligte briesie wat rondgedwaal het om die skouspel gade te slaan.

Die tweede laaste MPSA pistoolliga (Mpumalanga Practical Shooting) van 2018 is deur die TEKS klub net buite Trichardt aangebied. Die skietbaan en meegaande fasiliteite lyk elke keer nog beter en die dag se skiet was uit die boonste rakke. Die Skietpieties het, soos wat ons nou al gewoond raak, die standaardklas oorheers met JC Potgieter wat weer op ‘n drafstap gewen het. Hy het ook dan algeheel eerste in al die klasse geëindig.

Johnny Naudé was kookwater en het die brons medalje losgeskiet met ‘n baie goeie 71.7%. Die ander Skietpieties vaar soos volg: 4 – Kyle van Deventer (70.1%), 5 – Dawie de Bruin (66.7%), 6 – Heinz Dirsuwei (65.8%), 8 – Nic Stephansen (58.5%) en Denzil Venske (57.4%). In die produksieklas behaal Dieter Loubser 63.9% en Mark Hohls 39.7%.

Mark verbeter met elke liga en kruip stadig teen die rangleer op. Welgedaan Mark, jou harde werk begin reeds vrugte afwerp. Ons het ook die goeie nuus gekry dat vier van ons Skietpieties MPSA provinsiale kleure verwerf het, en sal hulle Mpumalanga verteenwoordig op die Nasionale Kampioenskap wat einde Oktober in Stilfontein plaasvind.

Baie geluk aan Johnny Naudé, Dawie de Bruin en Kyle van Deventer wat gekies is vir die MPSA standaardklas A-span en Dieter Loubser gaan sy plek volstaan in die produksieklas Bspan. Met slegs vier skuts per span is dit voorwaar ‘n uitsonderlike prestasie. Welgedaan manne, ons is trots op julle! Op 24 November is ons die gasheer vir die 2018 MPSA Geslote Kampioenskappe.

Dit word hier op die Bertie Eggers baan beslis en dan sal ons ook die ander klubs Saterdagaand onthaal by die jaarlikse prysuitdeling. Intussen sal ons nog ‘n kluboefening hê op 3 November en dan die GROTE: ons legendariese Piet Retief Extreme 300 op 8 Desember! Laat die gogga byt, want dis lekkerrrrr! Wederom, Lood.