’n Ghoema vir Naglig?

Wink daar dalk ’n Ghoema-toekenning vir die talentvolle Michael Blignaut se nuwe treffer, Naglig, wat op Dinsdag, 6 November, in Honeydew, Johannesburg, verfilm is?

Een van Suid- Afrika se gewildste produksiemaatskappye, Fathom Media, wat spesialiseer in films, advertensies en musiekvideo’s het Michael se eerste enkelsnit verfilm. Michael het aan die Excelsior Nuus genoem dat alhoewel dit dié betrokke aand ysig koud was, het die opgewondenheid sy hart warm laat klop.

Naglig se musiekvideo behoort teen Vrydag, 16 November by kykNET te wees en van daar sal dit op Kanaal 146, kyk- NET en Kie uitgesaai word. Clarice Pieterse, van Clarice en die Reënboogkidz en Wiehan van Wyk, vertolk die hoofkarakters in dié musiekvideo. Daar is ook genoem dat Michael kan uitsien na ateljee- onderhoude met ondermeer Jukebox, kykNET Top 20 en Toks en Tjops in die nabye toekoms.

Nóg uitstekende nuus is dat Naglig se musiekvideo vir die 2019 Ghoematoekennings ingeskryf gaan word. Dit sal onder twee kategorieë verskyn naamlik “Nuwe Musiekvideo van die Jaar” en “Nuwe Kunstenaar van die Jaar”. Die Ghoematoekennings vind in April 2019 plaas, by die Sun Arena, in Menlyn Main.

Op hierdie stadium bereik Michael se enkelsnit besonderse hoogtes. Dit word tans op Groot FM 90.5 se trefferparade gespeel en is aangewys as nommer vier op die SFM Streek Radio. Hierdie pragtige liedjie van ‘n Piet Retiewer word tans op 17 radiostasies landwyd uitgesaai! Dis nie al nie – Vaughan Gardiner is tans besig om Michael se tweede liedjie te skryf en die moontlike titel van Hemel Water word oorweeg.

Hierdie liedjie sal vroeg in Januarie 2019 opgeneem word. Vaughan en Hugo Ludik, van die sanggroep Adam, sal die verwerking van die liedjie doen en die proses van vrystelling, musiekvideo en bemarking sal weer van vooraf begin. Michael wil graag die gemeenskap van Piet Retief opreg bedank vir elkeen se ondersteuning en bemoedigende woorde vandat hierdie projek van hom vlamgevat het. In meeste van sy radioonderhoude het hy genoem dat daar geen gemeenskap soos dié van Piet Retief is nie.

Daar kan op hierdie stadium met sekerheid gesê word dat sy tweede snit net so uitstekend soos Naglig gaan wees! Piet Retief se mense is saam met Michael opgewonde oor die blink toekoms wat vir hom voorlê! Baie geluk Michael.