Wanneer motorfietsry in jou bloed is

Wanneer motorfietsry in jou bloed is
Milton, Juanne en Jhanu

Om ’n liefde vir dié tipe sport te ontwikkel, sit beslis nie in elkeen se broek nie, maar tog is avontuurlustige motorfietsry ’n tipe van verslawing, want as die gogga ’n mens eers gebyt het, los hy nie sommer maklik nie!

Milton Slabber het die afgelope naweek deelgeneem aan die Wittenberg Pretrit, ’n 50 kilometer rit wat bestaan het uit berge, dale, klipterreine en selfs ’n rivierkruising. Alhoewel hierdie slegs ’n pretrit vir jonk en oud was, het Milton die 50 kilometer in rekordtyd kafgedraf, nie net een keer nie, maar vier keer! Hy en sy seun, Jhanu, het vanjaar se pretrit saam aangepak.

Ongelukkig kon Jhanu nie die roete voltooi nie weens ’n besering na ongeveer 20 kilometer se ry. Die gedeelte wat hy wel afgelê het, was vir hom groot pret! Vir die afgelope 32 jaar al geniet Milton die verskeie adrenalien-belaaide motorfiets avonture en het hy op sy eerste motorfiets geklim toe sy voete nog nie eens die grond kon raak nie.

Wanneer motorfietsry in jou bloed is, is dit beslis ’n lewenslange stokperdjie wat jou sal uitdaag om weer en weer op te klim na elke val! Geniet elke rit Milton en baie veilige kilometers word jou toegewens.