Landsdieners sluit 2018 af met genotvolle piekniek

piekniek

Van vroegmiddag af, op ’n lieflike warm Woensdag, 24 Oktober, het Laerskool Piet Retief se Landsdieners die afgelope jaar se verrigtinge afgesluit met ’n genotvolle piekniek.

Die braaivleisvuur is reeds vroegmiddag aangesteek en die kinders se opgewondenheid kon skaars beteuel word. Teen 14:30 het die lede almal by Laerskool Piet Retief se sportsentrum bymekaargekom, piekniek mandjies in die een hand en ’n kombers in die ander. Daar is omtrent gelag, baljaar en gespeel terwyl hulle saam vleis vir hul hamburgers gebraai het.

Vanjaar se Landsdiens was pure pret en plesier wat ook ’n kamp of twee ingesluit het. Dit is effens hartseer om alreeds die jaar te moet afsluit, maar 2019 lê om die draai en die nuwe jaar se kalender is weer stampvol uitstappies, opvoedkundige lesse en kampe.

Baie dankie aan elkeen wat die Landsdiens-beweging moontlik maak vir die leerlinge. Hulle geniet die Woensdagmiddaesamekoms terdeë. Tot volgende jaar!