Laerskool Wittenberg maak geskiedenis!

O/11 Krieketspan Laerskool Wittenberg se O/11 krieketspan het ’n uitmuntende seisoen gehad vanjaar.

Hulle het gedurende die seisoen hard geoefen en hulself goed van hul taak gekwyt deur sodoende na verloop van elke wedstryd as die wenners van die veld af te stap.

Laerskool Wittenberg het deurgedring tot die finaal van die Mpumalanga streekstoernooi wat plaasgevind het op 24 Oktober 2018. Laerskool Wittenberg het tydens die finaal teen Laerskool Skukuza op Laerskool Piet Retief se velde gespeel.

Wittenberg was die wenners van die loting en het gekies om eerste te boul en veldwerk te doen. Mario de Olivera, Kyle van der Plas, Sune Greef, Uwe Meyer en Ruan Freise het elk een paaltjie gevat, terwyl Dian Dickenson 2 paaltjies gevat het. Mario de Olivera het die hoogste aantal lopies van 20 aangeteken terwyl Kyle van der Plas die enigste 6 van die wedstryd aangeteken het en ook die wenlopies geslaan het.

Wittenberg wen met 6 paaltjies en stap weg as die Mpumalanga Klein Skole Kampioene vir 2018. Baie geluk met hierdie wonderlike prestasie. O/13 Krieketspan Donderdag 8 November, het Laerskool Wittenberg en Laerskool Balfour die Ligaeindstryd op Hoërskool Hoogenhout, te Bethal, se velde gespeel.

Wittenberg se krieketspan het op ’n drafstap met 107 lopies geseëvier. Wittenberg het eerste gekolf en het 174/8 na 30 boulbeurte op die telbord gehad. Louis Grobler het 44 lopies gemaak, Holger Gevers was uit vir 30 lopies en Ruan de Waal het 19 lopies aangeteken.

Laerskool Balfour is die taak gestel om 175 vir ’n oorwinning aan te teken. Hulle jaagtog het vroeg reeds ’n knou gekry en is almal uit vir net 67 lopies. Wittenberg se boulers het Balfour deurentyd onder druk gehou. Louis Grobler en Eben Uys het elkeen 3 paaltjies platgetrek.

Holger Gevers het 2 vir 19 geneem. Na Wittenberg se naelbyt halfeindstryd oorwinning teen Skukuza, behaal hulle ‘n maklike oorwinning teen Balfour en is die trotse O/13 Mpumalanga Kleiner Skole Kampioene!!