Die VLU-dames leer meer oor vleis

Die VLU-dames leer meer oor vleis

Het jy geweet, vleis wat ’n been aan het, bederf vinniger as dié wat ontbeen is? Op Dinsdag, 16 Oktober, het die dames van die VLU Piet Retief tak heerlik vergader by Zesty Restaurant.

Skriflesing was uit Psalm 48:1-3,11,13 wat gehandel het oor “Oproep tot Lofprysing”. Almal is herinner daaraan dat elkeen van ons God moet prys want Sy Naam is hoog boweal verhewe. Sy majesteit strek oor die hemel en die aarde! Na die opening het Aubrey Beneke die dames toegespreek oor vleis.

Daar is so baie interessante feite oor vleis gedeel wat min mense eintlik van weet. Bees-, skaap- en varkvleis kan vir minstens ses maande gevries word terwyl hoender en vis slegs vir drie maande eetbaar bly wanneer dit gevries word. Het jy geweet dit is net ’n mite dat ’n mens nie speserye op vleis moet gooi terwyl dit gaargemaak of gebraai word nie? Daar is bevind dat as jy sout, peper of allerlei ander speserye opgooi, die vleis nie sagter of taaier sal word nie.

Die dames is ook verheug omdat hul reeds ’n hele klomp broodsakknippies bymekaargemaak het. Die knippies sal op ’n volgende kongres na Wakkerstroom gestuur word waar daar behoefte vir rolstoele is. Baie dankie aan elkeen wat voortdurende broodknippies insamel.

Die aangename samesyn is afgesluit met ’n mooi woord vir elkeen: “Onthou, maak nie saak hoe stadig jy beweeg nie, moet net nie stop nie.” Mag hierdie stukkie jou ook motiveer om elke dag jou bes te lewer al lê die dag soos ’n donker wolk voor jou! Die finale vergadering vir 2018 sal op Dinsdag, 27 November, plaasvind.