Drie persone is dood in motorongelukke

Drie persone is dood in verskeie motorongelukke
Die drywer van die Nissan bakkie het by Normandien se afdraai ingedraai toe 'n VW Golf teen sy motor gebots het

Drie persone is dood in verskeie motorongelukke gedurende die afgelope twee weke. 21 September 2018: Omstreeks 23:10, is Noodpersoneel ontbied na ’n ongeluk op die Paulpietersburgpad.

Die bestuurders van ’n blou Toyota Tazz en ’n vragmotor was beide op pad na Paulpietersburg, toe die bestuurder van die Tazz die vragmotor van agter tref. Twee insittendes is op die toneel dood, een was in ’n kritieke toestand en nog twee persone het ernstige beserings opgedoen.

Al die insittendes moes met die reddingskaak uit die voertuie bevry word. 23 September 2018: ’n Verlate wit Toyota bakkie is om 01:00 op die N2, naby die Grotto Restaurant, gevind. Met die aankoms van die Noodpersoneel, was daar geen mense op die toneel teenwoordig nie.

Dit blyk of die bestuurder van die bakkie moontlik beheer verloor het en teen ’n boom gebots het. Vroegmôre, om 09:00, het die bestuurder van ’n sil-wer BMW in ’n sloot langs die Wakkerstroompad beland nadat hy beheer oor sy voertuig verloor het. Die bestuurder het genoem dat die pad se ryvlak glad was weens reënwater.

Hy het van die pad af beweeg en teen ’n boom gebots. Twee insittendes het ligte beserings opgedoen. Omstreeks 16:00, is drie persone lig beseer nadat ’n blou Ford se band gebars en die bestuurder beheer verloor het op die Ermelopad. Die voertuig het gerol en langs die ryvlak van die N2 tot stilstand gekom.

25 September 2018: Op die betrokke dag, omstreeks 12:55, het die bestuurder van ’n silwer Nissan deur Laerskool Piet Retief se palisadeheining gery. Volgens die verslag, het die bestuurder genoem dat hy van ’n plaaslike dokter af gekom het, duiselig geraak en beheer oor sy voertuig verloor het. Slegs een persoon het ligte beserings opgedoen.

29 September 2018: ’n Gru-ongeluk op die Wakkerstroompad, het die lewe geëis van een persoon nadat ’n Ford Icon se band gebars en die bestuurder beheer verloor en sy motor gerol het. Nog twee insittendes is in ’n kritieke toestand terwyl drie ander mense slegs ligte beserings opgedoen het.

Omstreeks 21:00 op die betrokke dag, het die bestuurder van ’n Toyota Corolla nie gestop by die uitdraai van Maphepehni (Ermelopad) nie en het ’n Mazda, wat op pad was na Piet Retief, op die sykant getref.

Geen beserings is tydens die ongeluk opgedoen nie. 1 Oktober 2018: Omstreeks 07:00, het ’n ongeluk plaasgevind op die N2, by Normandien se afdraai. Volgens die Nooddienste se verslag het die bestuurder van ‘n Nissan bakkie by die afdraai ingedraai toe die bestuurder van ’n VW Golf hom op die kant getref het.

Slegs ligte beserings is tydens die ongeluk opgedoen. ’n Ernstige beroep word op motoriste gedoen om te alle tye verantwoordelik te bestuur. Wees asseblief oplettend vir ander motoriste op die paaie en kom liewer later by jou bestemming aan as nooit!

Spoed het ’n groot aandeel in ongelukke aangesien ’n bestuurder op spoed nie volle beheer oor ’n voertuig het nie!