Kaleidoskoop sê dankie vir broodsakknippies

Kaleidoskoop sê dankie vir broodsakknippies
Daar is heerlik saamgekuier

Op Saterdag, 15 September, het die dames van die VLU Vroue Landbou-Unie Kaleidoskoop ’n vergadering aan huis van Rika Wolmarans gehou.

Eerstens wil die Kaleidoskoop dames graag elkeen bedank wat voortdurend broodsakknippies versamel het. Daar is genoeg bymekaargemaak om nou aan Amersfoort se VLU tak ook te stuur aangesien daar ’n persoon is wat ’n behoefte vir ’n rolstoel het.

Indien jy die gewoonte aangeleer het om die broodsakknippies te hou, gaan gerus daarmee voort en stuur dit na Laerskool Piet Retief toe. Daar word verneem dat dié skool ook eersdaags só ’n projek gaan loods. Die jaar het vinnig aangestap en daar is slegs een handwerkartikel (borduurwerk) vir 2018 oor.

Vroue Landbou-Unie
Babie Jacobs wys haar handborduurwerk demonstrasie

Die dames moet ’n naaldeboek maak. Dit kan geskep word uit masjien- of handborduurwerk. Tydens die vergadering het Babie Jacobs aan die dames ’n insiggewende demonstrasie oor handborduurwerk gewys en dit het elkeen sommer weer nuwe moed en idees gegee.

Die VLU Kaleidoskoopspan wil graag ’n beroep doen op die vernuftige baksters van Piet Retief om hul by te staan met ’n bietjie raad. Hoe kan ’n mens die tradisionele koffiekoekie (wat deur die vleismeul gedruk word), moderniseer?

Dít blyk nogal ’n groot uitdaging te wees! Indien jy ’n bietjie raad het of graag meer wil uitvind oor die VLU Kaleidoskoop tak, kontak gerus vir Babie Jacobs by 082 929 0342 of Hannetjie Botha by 071 356 1728.