Reën bring verligting in vuurseisoen

Reën bring verligting in vuurseisoen
’n Lugfoto van ’n onlangse vuur wat vinnig geblus is

Mense wat in die Piet Retief omgewing woonagtig is, is hierdie tyd van die jaar al gewoond aan die klank van vliegtuie wat op ’n gereëlde basis vlieg om vure te beveg, maar die afgelope paar weke se onverwagse reënbuie het gesorg vir ’n daling in veld- en plantasie vure.

Volgens ’n woordvoerder by die MFPA (Mkhondo Fire Prevention Association) is bevestig dat op 27 Julie 2018, verskeie groot vure aangemeld is, maar dat die opgeleide spanne blitsvinnig daarop gereageer het en dat daar minimale skade aan die velde of plantasies was.

Die MFPA het ongeveer 400 gerapporteerde vure tot dusvêr ontvang en dit sal goed wees as hierdie syfer nog meer kan daal. Alhoewel verlede Donderdagaand, 23 Augustus, se vinnige donderstorm en reënbuie ’n aangename verrassing was, moet daar nog baie reën val voor ’n mens ’n aansienlike styging in Mkhondo se omliggende damvlakke sal sien.

Volgens statistieke vanaf die Department van Water en Sanitasie, gedateer 20 Augustus 2018, toon die plaaslike damvlakke almal ’n effense daling en daar word uitgesien na ’n nat lenteseisoen sodat die damme sommer vinnig sal opvul. Heyshopedam daal van 87,4% na 87,3% terwyl Jerichodam ’n algehele daling van 0,9% toon, van 81,4% na 80,5%.

Morgenstonddam daal ook van 79,2% na 79,1% en Westoedam daal met 1,7% van 52,5% in die vorige week na 50,8%.