PRKK vs Bethal CC uitslae

PRKK vs Bethal CC uitslae
Thokozani Peter teken 65 lopies aan

PRKK vs Bethal CC uitslae.Die krieketseisoen het amptelik op Sondag, 9 September, begin en dit was voorwaar die perfekte dag om met die louere weg te stap.

Weens gure weersomstandighede, was hierdie wedstryd teen Bethal CC vir ’n paar dae in die weegskaal en selfs op Saterdag, 8 September, het die veld steeds soos ’n dam gelyk te danke aan goeie reën.

Mnr. Iman Rens en sy span, het egter vroeg Sondagoggend hard gewerk om die veld gereed te kry, sodat die wedstryd steeds kon voortgaan. Bethal wen die loot en stuur PRKK se spelers eerste in om te kolf.

Die openingskolwers, Francois Kroukamp en Marcel Hinze, het ’n puik vennootskap gehad en teken 127 lopies aan voor die eerste paaltjie kantel. Wat hierdie vennootskap nog meer indrukwekkend gemaak het, is dat dit vermag is teen ’n uiters bekwame boulaanval van Bethal af. Francois teken 60 lopies aan en Marcel moker 35 lopies.

PRKK vs Bethal CC uitslae
Swazi Nel lewer uitstekende kolf- en boulwerk

Thokozani Peter (65) en Swazi Nel (28) kasty die opponente met 93 lopies gesamentlik wat Piet Retief laat eindig met ’n goeie telling van 289 vir 50 boulbeurte. Bethal se openingspaar begin hul kolfbeurt baie stadig weens puik boulwerk deur Swazi Nel (1 vir 16) en Thokozani Peter (1 vir 20). Dit was egter die draaiboulers wat skoonskip maak. Senior lid van PRKK, Antony Yiollaris en die “baba” van die span, Luco van der Walt, het ’n puik boulaanval gelei.

Anthony eindig met vier paaltjies vir 49 lopies in slegs nege boulbeurte en Luco behaal ’n syfer van drie paaltjies vir 11 lopies in slegs vier beurte. Op die ou end, word Bethal CC uitgeboul vir 207 lopies en Piet Retief wen met 91 lopies.

Wat ’n uitstekende begin van ’n nuwe seisoen. Baie dankie vir elkeen se ondersteuning en bydraes. Kom woon gerus die volgende wedstryd by wat op Sondag, 23 September, tuis gespeel sal word.