Piet Retiewers neem deel aan Imana Wild Ride

Piet Retiewers neem deel aan Imana Wild Ride
Waar daar nie gery kon word nie, moes hulle die fietse maar dra

Vanaf Sondag, 26 Augustus tot Donderdag, 30 Augustus, het ses Piet Retiewers gaan deelneem aan die tawwe Imana Wild Ride se Ride the Wave en al het dit plek-plek moeilik gegaan, was dit hope pret.

Die Imana Wild Ride is ’n vier-dag avontuur wat aan die Ooskus van Suid- Afrika plaasvind. Dit bestaan uit ongeveer 200 kilometer aan die Wilde Kus tussen die Groot Kei – en Umngazi riviere. Die organisasie WREC (Wild Ride Education Company), in samewerking met Imana Foods en die jaarlikse deelnemers aan die Imana Wild Ride, kon daarin slaag om die afgelope 19 jaar al bykans dertig klaskamers te voltooi.

Bruno Paul en sy vrou Carike, saam met Norman en Marina Creydt, Fritz Ernst (sy spanmaat was ’n vriend van Pretoria) en Justin Bekker (saam met sy broer, Simon) het op Sondag, 26 Augustus, by die Morgan Bay Hotel bymekaargekom om te registreer.

Op dag een (Maandag, 27 Augustus) is daar ongeveer ses kilometer gery tot by die Keirivier mond, waar die spanne offisieel weggetrek het. Die spanne is per boot oor die rivier van waar hulle ’n verdere 50 kilometer per fiets moes aflê tot by Kob Inn. Vanaf Kob Inn (dag twee, Dinsdag, 28 Augustus) is daar vir ongeveer 35 kilometer getrap tot by The Haven en op dag drie (Woensdag, 29 Augustus), het die spanne weggespring en 50 kilometer afgelê tot by Ocean View. Op die laaste dag (Donderdag, 30 Augustus), het die deelnemers van Ocean View af ’n roete van 63 kilometer gery tot by die eindpunt in Umngazi River Lodge.

Dit was ’n besonderse ervaring vir elkeen wat deelgeneem het en alhoewel hul al douvoordag moes wegspring, is daar elke dag langs die pragtige kuslyn gery. Die roetes wat gery is was ongemerk en die spanne mag ook nie gebruik gemaak het van ’n GPS (globale posisioneringstelsel) nie.

Hulle moes maar self ’n plan maak om van punt A tot by punt B te kom. Die roete het ook bestaan uit dele oor die strand (sand en seewater), oor riviere wat in die see inloop, rotse, grondpaaie, 4×4 roetes, paaie met vee op (tussen beeste, skape en bokke) asook oor grasheuwels. Van die deelnemers moes op sekere plekke hul fietse dra waar hulle nie kon ry nie.

Die spanne het daagliks drie etes geniet by die plekke waar hulle oorgeslaap het en daar is elke aand heerlik saamgekuier en besin oor dié dag se roete. Daar is natuurlik ook “boetes” uitgedeel in die vorm van hoede, feetjie-rompies, hanswors-hare en selfs ’n strikdas of twee.

Diegene wat ’n “boete” ontvang het, moes die volgende dag se roete daarmee aflê en dit was vet pret!

Lees ook: Piet Retiewers neem deel aan Roof of Africa