Nooddienste het hul hande vol gehad

Nooddienste
Een persoon is op die toneel dood en nog een in die hospitaal na ’n botsing tussen ’n Mercedes Benz en ’n Hyundai bussie

Personeel van die plaaslike Nooddienste het hul hande vol gehad met ongelukke wat vanaf Donderdag, 23 tot Sondag, 26 Augustus, plaasgevind het.

Donderdag, 23 Augustus, omstreeks 07:30: Die bestuurder van ’n Isuzu bakkie was onderweg na Piet Retief vanaf rigting Ermelo toe ’n Mpumalanga Scholar Transport bus by die Wildrand-kruising in die N2 indraai.

Die bestuurder van die Isuzu kon nie die bus in die digte mis sien nie en het teen die agterkant van die bus gebots. Slegs een passasier in die bakkie het beserings opgedoen en is per ambulans na die naaste hospitaal afgevoer. Vrydag, 24 Augustus, omstreeks 10:00: ’n Kop-aan-kop botsing, tussen ’n Hyundai H1 bussie en ’n swart Mercedes Benz, het op die Pongolapad by die Moolman afdraai, plaasgevind.

Die bestuurder van die Mercedes Benz het genoem dat hy ’n voertuig wou verbysteek en nie die aankomende bussie deur die digte mis kon sien nie. Hy het na regs geswenk, maar kan steeds nie die ongeluk vermy nie. Een persoon is met die “Jaws of Life” uit die Mercedes Benz verwyder en is op die toneel oorlede. Nog ’n insittende is per ambulans hospitaal toe en daar is later bevestig dat hy ook aan sy beserings beswyk het.

Die bestuurder van die bussie het slegs ligte beserings opgedoen. Saterdag, 25 Augustus, omstreeks 00:00: Nóg ’n ongeluk het op die Pongolapad plaasgevind toe die bestuurder van ’n Toyota bakkie met ’n MAN vragmotor gebots het. Die bestuurder van die Toyota beweer dat hy opgelet het hoe die vragmotor uit sy baan beweeg maar weens digte mistoestande, was sy sig belemmer.

Die vragmotor het skielik weer in die baan inbeweeg en hy het die vragmotor op die sleepwa getref. Die vragmotorbestuurder het die ongeluk in sy truspieëltjie gesien gebeur en dadelik tot stilstand gekom. Hy het uitgespring en tot die man in die Toyota se redding gekom deur hom uit die wrak te sleep. Die Toyota bakkie het aan die brand geslaan en bykans heeltemal uitgebrand.

Die bestuurder van die bakkie het geringe beserings opgedoen maar hy was by sy volle bewussyn en is daarna na die hospitaal afgevoer. Sondag, 26 Augustus, omstreeks 09:30: Op die betrokke dag, het drie mense beserings opgedoen nadat die bestuurder van ’n Mercedes Benz beheer verloor het oor die voertuig op die Pongolapad.

Die voertuig het gerol en daar was geen ander voertuie in dié ongeluk betrokke nie. Die rede vir die ongeluk is egter onbekend. In die oggendure van Sondag (03:00) is Noodpersoneel ontbied na ’n ongelukstoneel op die Ermelopad, naby die Derby afdraai.

Nooddienste sê daar is drie voertuie op die toneel gevind; ’n groen Mazda, wit VW Polo en ’n gryskleurige Isuzu bakkie. Met hul aankoms op die toneel, is daar een persoon in die pad gevind met ernstige beserings, maar geen bestuurders van een van die drie voertuie was op die toneel teenwoordig nie. Die beseerde persoon is per ambulans na die naaste hospitaal geneem.

Dit is egter onduidelik hoe die ongeluk ontstaan het en of die beseerde persoon raakgery is en of hy dalk uit een van die voertuie geslinger is tydens die ongeluk. Die saak word tans deur die plaaslike SAPD ondersoek. Net voor dagbreek op 26 Augustus (05:00), is inwoners in Klipstraat met ’n knalgeluid wakker gemaak nadat ’n jong man deur hul eiendom se muur gejaag het met ’n splinternuwe VW Golf.

Na bewering, blyk dit of die jong man dalk te vinnig gery, beheer verloor het en só die ongeluk veroorsaak het. Hy het gelukkig geen beserings opgedoen nie. Dit is uiters belangrik om ekstra versigtig agter die stuur van jou voertuig te wees wanneer jy in mistige weerstoestande reis.

Maak seker jou voertuig se ligte is in ’n goeie werkende toestand en moet nie onnodige kanse waag nie. Hou altyd by die voorgeskrewe spoedgrens. Maak seker dat almal in die voertuig hul veiligheidsgordels vasmaak – dit mag ’n lewe red!