PRRK sluit seisoen Kingspark, Durban

PRRK sluit seisoen af op Kingspark, Durban
PRRK se seisoen is afgesluit met beide die Eerstes en Tweedes wat hul laaste wedstryde op Kingspark, Durban, gespeel het

Piet Retief Rugbyklub se Eerste – en Tweede spanne het van ’n gulde geleentheid gebruik gemaak om hul seisoen behoorlik af te sluit deur hul finale wedstryde op Kingspark, in Durban, te gaan speel, net voordat die Cell C Sharks teen die Pumas uitgedraf het.

Aangesien PRRK se Eerste – en Tweede span die wenners van die Noord-Natal Liga was, het hulle die voorreg gehad om teen die wenners van die Suid-Natal Liga, die Eerstes van South Coast Warriors en die Tweedes van Westville Old Boys, te speel.

Na ’n sewe ure lange busrit op Vrydag, 7 September, het beide Piet Retief se spanne in Durban aangekom en teen 14:45 moes die Tweedes reeds gereed wees vir ’n tawwe wedstryd teen Westville Old Boys se Tweede span. Die wedstryd was ’n redelik gelykop stryd, maar met slegs 15 minute se speeltyd oor, het Westville Old Boys daarin geslaag om sommer twee drieë te gaan druk en verloor PRRK ongelukkig met ’n eindtelling van 27-42.

Teen 16:20, draf PRRK se Eerstes uit en maak gereed vir die styd teen South Coast Warriors se Eerste span. Reg van die begin af, was dit ’n opdraande stryd maar PRRK se spelers kon daarin slaag om goeie verdediging toe te pas en die opponente op hul tone te hou. Die telling was teen rustyd slegs 17-12 in die South Coast Warriors se guns, maar in die tweede helfte het die Warriors behoorlik weggetrek en wen vir PRRK met ’n eindtelling van 55-12.

Wen of verloor, wat ’n belewenis en perfekte manier om ’n puik rugbyseisoen af te sluit. Knap gedaan ook aan elke speler van Piet Retief wat regdeur die hele seisoen hul bes gegee het.

’n Spesiale dankie aan die nuwe lede wat uitgehelp het en gesorg het dat die Eerstes en Tweedes met vol spanne Durban toe kon reis. Tot volgende jaar!