Familiedag by Heyshopedam

Familiedag by Heyshopedam
Die familiedag van 2018 by Heyshopedam was ’n reusesukses

As deel van die Evangeliese Lutherse Gemeente van Panbult se jaarlikse fondsinsameling, het hulle ’n prettige familiedag by Heyshopedam gehad op Saterdag, 1 September.

Die weer het perfek saamgespeel en na die suksesvolle familiedag wat in 2017 gehou is, was die aanvraag op nog so ’n geleentheid baie groot en het die organiseerders besluit dat Lentedag 2018 die ideale dag hiervoor sou wees.

Van vroegmôre af al kon ’n mens die reuk van boerewors op die braaivleisvure ruik en besoekers kon weglê aan gesogte en smaaklike “kartoffelpuffers” (’n Duitse aartappel wat met appelmousse bedien word).

Die spitbraaiers is ook douvoordag aan die brand gesteek vir die vark- en skaapvleis, saam met bykosse, wat later die dag genuttig sou word. ’n Teetuin, beman deur vriendelike dames, het gesorg vir lip-lekker koeke en terte terwyl die personeel by die kontantkroeg en snoepie gereed gestaan het met versnaperinge en selfs ’n speelding of twee vir die kinders.

Daar was ’n “wit olifant”-tafel wat tuisgemaakte winskopies en tweedehandse items verkoop het. Die veilingtafel het gesorg vir allerlei items wat mense deur die loop van die dag kon besigtig en sommer ook hul Kersinkopies kon afhandel. Die jongspan het die familiedag ook terdeë geniet. Met verskeie speletjies soos hammerslaan, appel-skil en frisbee-gooi kon hulle ook groot pryse losslaan.

Die kinders kon hulself verder besig hou op die springkasteel, perderitte, gesigverf, ’n skattejag, sandspeletjies, baljaar in die dam of selfs met visvang. Deur die loop van die dag, het die besoekers gratis vlotritte geniet en die kinders het tougestaan vir die glybaan vanaf die vlot tot binne-in die dam.

Die familiedag van 2018 se fondsinsameling was ten bate van die Paulpietersburg Aftreeoord gehou en die meerderheid van die dag se fondse is deur middel van ’n pretveiling ingevorder. Edgar Filter het die mense behoorlik vermaak gedurende die veiling en almal het sy spontaniteit geniet.

Die organiseerders van hierdie onvergeetlike dag wil graag elke persoon hartlik bedank wat die dag bygewoon en ondersteun het. Sonder die besoekers sou die geleentheid nie so suksesvol gewees het nie.

’n Ruim dankie ook aan elke borg wat op welke manier ‘n bydrae gelewer het. Dankie, aan elkeen vir julle tyd, energie en positiewe gesindheid om te help waar julle nodig was. Dankie, ook aan ons Hemelse Vader vir die seën wat Hy in oorvloed uitgestort het. Wees maar gerus op die uitkyk, want hierdie geleentheid behoort dalk net ’n jaarlikse instelling te word!