Chris en Marina Stander groet

Chris en Marina Stander
Chris en Marina Stander, ons gaan julle vreeslik mis!@

Chris en Marina Stander groet. Op 25 September 1981, laat daardie Vrydagaand, is ons trek van Pretoria af hier op Piet Retief afgelaai.

Op 25 September 2018, presies 37 jaar later, sal ons Chris en Marina Stander Parys toe trek waar ons hier op Piet Retief opgelaai word. Net soos ons en Piet Retief destyds totale vreemdelinge vir mekaar was, is ons en Parys nou vir mekaar totale vreemdelinge. Piet Retief se mense het ons 37 jaar gelede sonder voorbehoud ontvang, aanvaar en, as mede-Piet Retiewers tuis laat voel.

Die Standers groet

Hulle het ons weldra by die wel en wee van ons gemeenskap betrek en betrokke gehou in die kerk, in die prokureursberoep, in die onderwys (in die wydste sin van die woord), op kultuurgebied en, laaste maar gewis nie die minste nie, deur die Assegaai Marathonklub. Baie, baie dankie vir ‘n ieder en ‘n elk vir kameraadskap, ware vriendskap en opregte liefde. Ons is baie lief vir julle almal en sal julle nooit vergeet nie.

Ons harte is seer want ons gaan Piet Retief en omgewing en ons mense hier ontsettend baie mis, maar ons vat darem tonne mooi herinneringe met ons saam.

Terselfdertyd is ons ook opgewonde oor die nuwe fase wat vir ons voorlê. Ons glo dat die Here ons in 1981 hierheen gebring het om ons hier in Sy diens te gebruik.

Ons glo ook dat die Here ons in 2018 na Parys (langs die Vaalrivier) toe vat om ons ook daar in Sy diens te gebruik. Aan Hom kom al die eer toe. Soli Deo Gloria. Chris, Marina, Catrien, Magriet en Chrisjan Stander


Assegaai Marathonklub se Algemene Jaarvergadering. Op Donderdag, 13 September, het die Assegaai Marathonklublede by Mama Mia Restaurant bymekaargekom vir hul algemene jaarvergadering.

Hierdie jaar se afsluitingsvergadering het gepaardgegaan met ’n tikkie hartseer aangesien daar afskeid geneem is van Chris en Marina Stander. Chris en Marina was betrokke by die Assegaai Marathonklub vir die afgelope 26 jaar en Chris het ook vir 25 jaar as Voorsitter van die klub gedien. Die egpaar gaan eersdaags verhuis na Parys, in die Vrystaat en Jan van Vreden het ’n spesiale trofee aan Chris oorhandig.

Die klub het hulle ook bederf met pragtige ruikers wat bestaan het uit blomme en lekkernye. Carol Carr het die lede toegespreek en terugvoer gegee oor die Park Run wat beplan word vir 2019. Algemene terugvoer asook die klub se finansiële sake en beplanning vir 2019 is bespreek.

Die afgelope jaar was ’n grote vir die klub! Die klub het besluit om hul atlete (diegene wat in 2018 aan die Comrades deelgeneem het), te borg aangaande hul inskrywings vir die 2019 Comrades Marathon. Die Assegaai Marathonklub is opreg dankbaar vir die borgskap vanaf Vumbuka Trust, ter waarde van R16 000-00. Hierdie befondsing sal benut word om behoeftige atlete te help met hardloopskoene.

Die klub sal self ook bydraes maak en terugvoer hieroor sal op ’n latere stadium gegee word. Hierdie atlete lê baie kilometers af onder die Assegaai-vaandel en om hulle te ondersteun is vir elkeen baie belangrik. Die geselligheid is afgesluit met ’n heerlike ete en samesyn.

Baie geluk aan die volgende atlete wat fenomenale prestasies in 2018 behaal het: • Sabelo Sibeko – Male club member of the year • Simoney Coetzee – Female club member of the year • Marius Schoeman (met 486 km) – Highest race mileage • Richard Nhlabathi – Hans-Walter Boshoff Trophy (first club member across the Comrades finishing line) Baie geluk ook aan die twee klublede wat tot die komitee verkies is.

Simoney Coetzee en Andrew McDonald het hulself beskikbaar gestel nadat Marius Schoeman die klub verlaat het. Hierdie twee lede sal op die komitee dien vir die 2018-2020 seisoen.