Goeie spanwerk lei tot uitstekende patrollie

Afriforum Buurtwag Patrollie
Lede van die Verkeersafdeling het tydens Vrydagaand se operasie verskeie verkeersboetes uitgereik

Vrywillige lede van AfriForum Buurtwag Patrollie het op Vrydagaand, 14 September, weereens ’n suksesvolle sigbaarheidsoperasie behartig!

Hierdie gereelde inisiatief is van kardinale belang om die veiligheid, sowel as voortdurende sigbaarheid in die gemeenskap te verseker en sodoende kriminele elemente uit ons gemeenskap te hou en misdaad te bekamp. Vrydagaand se patrollie operasie is goed ondersteun en die plaaslike SAPD het agt van hul lede en drie voertuie afgestaan om ook aan die patrollie deel te neem.

Afriforum Buurtwag Patrollie
Die SAPD en AfriForumlede handhaaf ’n goeie verhouding en bekamp misdaad hand-aan-hand

Die Verkeersafdeling het ook beamptes en drie voertuie beskikbaar gestel en hulle het verskeie boetes uitgeskryf. Omstreeks 18:00, het almal in ’n konvooi deur Kerkstraat gery en al Piet Retief se sektore besoek. Om 19:30 het almal begin om die residensiële areas, sowel as die dorpsgebied te patrolleer. Die SAPD het verskeie arrestasies gemaak terwyl die Verkeersbeamptes 15 boetes uitgereik het.

Teen 21:00, is ’n heerlike ete by TyreMart Piet Retief geniet en daarna is daar verder patrollie gery tot omstreeks 01:30. AfriForum se Buurtwaglede het gereageer op geweerskote wat in die omgewing van Von Brandisstraat en Magnolialaan afgevuur is. Die SAPD was ook blitsvinnig op die toneel nadat daar ’n Duiker in die woongebied doodgeskiet is. Baie dankie aan elke lid wat sy deel doen en meer!

AfriForum Buurtwag patrollie doen egter ’n beroep op elkeen wat wel lid is, om ook betrokke te raak by dié inisiatief. Elke persoon se insette en hulp word hoog op prys gestel en dit is uiteraard vir elkeen van ons in Piet Retief se veiligheid.

Op Vrydagaand, 21 September, is dit tyd vir AfriForum se Nasionale patrollie en daar word uitgesien dat meer van die plaaslike lede hierdie byeenkoms sal ondersteun en bywoon. Die operasie begin teen 18:00 vanaf die plaaslike SAPDkantore waarna daar deur die verskeie woongebiede gepatrolleer sal word.

Sluit gerus aan by AfriForum en maak seker dat jy ook ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap maak! Om aan te sluit, kontak 071 411 0784 vir meer inligting.