Wat sal word van ons mooie natuurlewe?

Wat sal word van ons mooie natuurlewe?
Karkasse en skedels is oral te sien naby die waterstroom

As elke Jan, Piet of Sannie links en regs diere van kant maak, wonder ’n mens wat sal oorbly van die pragtige bokkies en ander natuurlewe wat nog altyd vrylik in Piet Retief se omgewing te sien was.

’n Egpaar het op Maandag, 13 Augustus ’n ent met hul honde gaan stap naby ’n plantasie, geleë by die ou Wildskamp, en tot hul skok op ’n klein bokkie afgekom wat se lewe aan ’n draadjie gehang het.

Die bokkie se linkervoorbeen was morsaf en sy onderste kakebeen was heeltemal oopgeruk. Dit het gelyk of die bokkie op een of ander manier aangesukkel het tot by ’n waterstroom en net daar gaan lê het. Toe die stappers op die bok afkom, het hy nog gelewe en hul het dadelik gegaan en probeer om iemand in die hande te kry wat die bokkie sou kon help.

Toe hul weer by die waterstroom aankom, was die bokkie nêrens te vinde nie, maar die volgende dag (Dinsdag, 14 Augustus), het hul hom weer in daardie omgewing gevind en dit was duidelik dat hy gevrek het weens sy beserings. Na verdere ondersoek, het die egpaar op verskeie ander karkasse afgekom wat naby dieselfde waterstroom gesaai gelê het. Die oorblyfsels wat daar rondlê, is ’n duidelike indikasie dat die diere op ’n wrede en onnodige wyse gevrek het.

Daar is verskeie gerugte wat die ronde doen dat groepe mans in die area gereeld te siene is, met tot 20 jaghonde op ’n slag! Is dit ’n geval van dat die diere gejag word vir oorlewingsdoeleindes, want as ’n mens na hul oorskot kyk, is die karkasse beslis nie benut vir die vleis nie. Gerugte lei ook dat hierdie diertjies onbewustelik in strikke beland wat vir hulle gestel word en dat die jaghonde dan ingestuur word om die werk klaar te maak – dit is uiters wreed!

Indien daar enigiemand is wat gekontak kan word in hierdie verband sal die Excelsior Nuus dit hoog op prys stel as ons ook ingelig kan word sodat die gemeenskap kan weet wie om te kontak indien hulle op só iets sou afkom.