Totale maansverduistering

Volgens kenners, was die maansverduistering op Vrydag, 27 Julie, die langste algehele maansverduistering van die 21ste eeu en Suid-Afrika was een van die lande wat dié asemrowende verskynsel die beste kon sien.

Só ’n maansverduistering is beslis prentjiemooi en sterrekundiges het uitgewerk presies hoe lank die verduistering sou duur; 1 uur, 42 minute en 52 sekondes. Die totale verduistering het van omstreeks 21:30 tot 23:13 geduur en die maan het ’n rooi skynsel aangeneem. Alhoewel maansverduistering soortgelyk is aan sonsverduistering, is die aarde nou die een wat die son verduister en ’n skadu oor die maan gooi.

Daar is ook genoem dat algehele sonsverduistering baie skaars is en dat die maan nie lig van sy eie het nie omdat sy oppervlak sonlig weerkaarts. Tydens ’n totale maansverduistering, beweeg die aarde tussen die son en die maan in en blokkeer so die sonlig na die maan. Dis juis dan wanneer die maan se helderwit kleur verander in skakerings van oranje en dieprooi en dit ook nie heeltemal donker word nie.

Volgens die Astronomiese Vereniging van Suid-Afrika, (ASSA), was die vier planete; Venus, Jupiter, Saturnus en Mars, ook met die blote oog sigbaar Vrydagaand. Venus het blykbaar “gesak” toe die verduistering begin het en Mars het baie helder vertoon en was naby die maan geleë.

Piet Retiewers kon na hartelus die pragtige, een-in- ‘n-eeu gebeurtenis beleef en mense het die mooiste foto’s daarvan geneem. ASSA noem ook dat die volgende algehele maansverduistering, eers weer sigbaar in Suid-Afrika sal wees, op 7 September 2025.